Algemeen, Nuus, Politiek -

Hierdie Week in die Nuus: Kabinetskommeling 2.0

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk.  Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in 'n (mismoedige) glimlag.

Ons president het moontlik die heel besigste week in sy termyn van net meer as agt jaar beleef. Nie net het hy (uiteindelik) 'n nuwe raad by die SAUK aangestel nie; hy het ook sy kabinet geskommel en ek is amper seker hy was ten minste tot 'n mate betrokke by die SAL se skuiwe.

Laat ons ons egter by die kabinetskommeling bepaal. Dat Nkosazana Dlamini-Zuma nie 'n minister geword het nie, het talle van ons laat terugdink aan die vorige kabinetskommeling toe die hele Suid-Afrika al boos was oor Brian Molefe se ministerskap en toe word hy nie aangestel nie. Ek wonder soms of iemand in die president se kommunikasiespan weet dat as die publiek voorbereid is op die belaglike ons baie minder sensitief is vir die patetiese.

Dit was 'n vervangery uit 'n ander wêreld: Nzimande is uit en word vervang deur Mkhize, wat vervang word deur Dlodlo, wat vervang word deur Kubayi, wat vervang word deur Mahlobo, wat vervang word deur Bongo, 'n nuweling in die kabinet. Daar is meer vervangings in die skommeling as in die Bokke se beginspan die afgelope jaar (alhoewel dit 'n bietjie onregverdig is om so 'n vergelyking te tref aangesien daar 35 ministers en net 15 beginspanspelers kan wees). Hierdie chaos is die resultaat van wat president Zuma “careful consideration” noem.

Alhoewel ek nie oormatig positief kan raak oor Hlengiwe Mkhize as Blade Nzimande se plaasvervanger nie, is dit dalk hoogtyd om iemand met 'n meestersgraad in kliniese sielkunde in dié pos aan te stel. Dit kwalifiseer haar dalk om die psige van die #MustFall-beweging te verstaan. Ayanda Dlodlo, wat in Mkhize se vorige pos as minister van binnelandse sake instap, was eers die minister van kommunikasie. Dit beteken eintlik maar net dat sy verander van die minister vir wie ons vantevore kwaad was oor TV-lisensies na die minister vir wie ons nou gaan kwaad wees oor belaglike lang toue en swak diens wanneer mens 'n ID-kaart probeer kry. Dlodlo het verskeie kwalifikasies in verskepings- en vervoerbestuur en 'n skitterblink umKhonto weSizwe-verlede. Ek wonder tog 'n klein bietjie watter een van die twee prestasies aanleiding gegee het tot haar aanstelling.

Dlodlo word vervang deur Mmamoloko Kubayi wat vir 'n kort rukkie minister van energie was. Minstens kan ons haar 'n bietjie krediet daarvoor gee dat daar nog geen kernkragsentrale gebou is nie. Sy is egter ook die minister wie se bruidegom in September vanjaar in 'n vreemde kombinasie tussen 'n vloot- en lugmaguniform getrou het omdat hy graag soos 'n vlieënier wou lyk. Amptelike kentekens van die Suid-Afrikaanse Nasionale Verdedigingsmag het deel uitgemaak van sy “uniform” – nóg die bruid nóg die bruidegom was skynbaar bewus daarvan dat die dra van die kentekens 'n kriminele oortreding is. Kubayi is nou die sewende minister van kommunikasie in sewe jaar.

David Mahlobo is die nuwe minister van energie. Mahlobo se loopbaanhoogtepunte sluit in dat hy verantwoordelik was vir die belemmering van die selfoonsein in die parlement in 2015 en sy uitlating dat Thuli Madonsela moontlik 'n CIA-spioen is. Hy is ook die minister wat 'n bordeel besoek het wat deur 'n renosterhoringsmokkelaar besit word en steeds die media en Suid-Afrika probeer oortuig dat dit 'n spa was … hoe dit ook al sy, Minister Mahlobo. Onder sy leiding kan ons uitsien na 'n triljoenrand-kernkragooreenkoms wat vir 'n paar korruptes en 'n hele boel Russe vodka op die tafel sal sit. Nazdrovje!

Laastens is Mahlobo deur Bongani Bongo vervang. Hy was nog nooit in 'n leierskapsposisie nie, maar is wel groot vriende met David Mabuza, Mpumalanga se premier. Mabuza is ook een van die premiers wat nog nie besluit het vir wie hy in Desember se leierskapsverkiesing gaan stem nie en is 'n moontlike bepaler van die uitslag. Ek is egter oortuig dat president Zuma dit nie in ag geneem het toe hy vir Bongo aangestel het nie.

Nou sien ek in die nuus dat Cyril Ramaphosa moontlik 'n slagoffer van die volgende kabinetskommeling kan wees. Ek wil tog die presidensie vra om eers almal wat hierdie keer geraak word genoeg tyd te gee om hul Wikipedia-inskrywings en LinkedIn-profiele te verander voor hy weer skommel.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close