Algemeen, Nuus, Politiek -

Hierdie week in die nuus: Klein vuurtjies wat pla

My ink was skaars droog nadat ek verlede week geskryf het dat ons buurland, Zimbabwe, 'n sirkus is, toe word 'n coup wat nie 'n coup is nie, uitgevoer.  Die Zimbabwiese weermag het die staatsuitsaaier beset, troepe die strate ingestuur en die president vir alle praktiese doeleindes onder huisarres geplaas – maar dit is nie 'n coup nie.  Die weermag probeer met alle mag die wêreld oortuig dat hierdie ding wat loop en kwaak soos 'n eend beslis nie 'n eend is nie.  Hulle kry dit ook skynbaar reg aangesien hulle nog nie uit die Afrika-unie of die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (in Engels SADC) geskors is soos wat outomaties moet gebeur wanneer 'n coup d’etat uitgevoer word nie.  'n Mens sou dink die AU en SADC is in 'n moeilike posisie aangesien 'n mens nie regtig die Mugabe-regime wil goedkeur nie, maar ek verstaan ook dat hulle nie 'n coup wil goedkeur nie.  Maar gelukkig vir die AU en SADC het hulle nie 'n groot probleem met die Mugabe-regime nie (Botswana is die enigste land in die AU wat die Mugabe-regime in die openbaar veroordeel het), dus behoort dit vir hulle maklik te wees om kant te kies.

Dit kan natuurlik wees dat dit regtig nie 'n coup is nie.  Dit is nie asof die president eintlik nog in beheer van Zimbabwe was nie, dus was dit nie werklik nodig om hom omver te werp nie. Dit is eerder op Grace gemik.  Dit is dalk ook hoekom die weermag die heeltyd verduidelik dat hulle eintlik net die kriminele elemente rondom die president verwyder – of die president dit nou wil hê of nie.  En dalk vat dit so lank omdat Grace êrens 'n verlengkoord in die hande gekry het, of 'n handsak byderhande gehad het, of so iets.

Êrens diep in my hart is daar wel 'n klein bietjie simpatie vir Grace.  Sy het so mooi uitgehou en vasgebyt met 'n man wat meer as 40 jaar ouer as sy is en boonop waarskynlik 'n persoonlikheidsafwyking het, net om nou uit te vind dat sy heel moontlik nie sy opvolger gaan wees nie.  Daar is baie goed waarin mens kan misluk in die lewe en weer opstaan. Maar as jy 'n fortuinsoeker is en 'n diktator kies om mee te trou, gaan jy waarskynlik nie opstaan wanneer daardie regime val nie.  Arme Grace, dit lyk of die titel as die wêreld se onsuksesvolste fortuinsoeker haar toekom.

In Suid-Afrika het ons egter ook ons eie klein vuurtjies wat ons nie geblus kry nie, waarvan die moontlikheid dat die Universiteit van Kaapstad (UCT) se akkreditasie om Baccalaureusgrade in regsgeleerdheid aan te bied, teruggetrek gaan word, seker die grootste is.  Dit is die enigste Suid-Afrikaanse universiteit onder die top 100 regskole ter wêreld.  Dit is natuurlik ook Suid-Afrika se beste regskool – tensy die Raad vir Hoër Onderwys se mening gevra word.  Volgens hulle is dit een van die vier swakstes.  Partykeer moet 'n mens net 'n koppie rooibostee maak, in jou leunstoel gaan sit en glimlag oor hoe belangrik transformasie vir Suid-Afrika is, en hoe irrelevant dienslewering, gehalte en produktiwiteit geword het.  Minstens is ons regering passievol oor iets.  Miskien het hulle te veel van daardie boeke gelees wat vir jou probeer verduidelik dat passie al is wat jy in die lewe nodig het, geskryf deur iemand wat nog nooit iets anders in die lewe bereik het as die skryf van daardie een boek nie.  Ek sê nie dat ek teen passievolle werknemers gekant is nie; ek is gekant teen die passievolle bevordering van inhoudlose beleid.

Die volgende net meer as 700 vuurtjies is ons maatskappye in staatsbesit.  Ek dink dit is genoeg om te sê dat daar chaos heers.  En dat dit die nuus gehaal het.  Daarom moes ek iets daaroor sê.

  •  
  •  
  •  
Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close