Algemeen, Ekonomie, Nuus, Politiek -

Hierdie week in die nuus: ‘n Belaglike Begroting

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk.  Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in 'n (mismoedige) glimlag.

Sommige weke moet ek regtig na iets soek om grappies oor te maak. Hierdie week het minister Gigaba egter, sommer die grappies namens my gemaak. As ek soveel woorde gehad het, het ek sommer sy mediumtermyn begrotingstoespraak sonder verandering geplaas, want dit alleen is snaaks genoeg. Omdat ek egter 'n woordbeperking in die gesig staar en (ek vermoed) my lesers ook nie soveel tyd (of lus) het om alles wéér te lees nie, het ek drie paragrawe gekies wat my die héél meeste vermaak het.

In die eerste plek was minister Gigaba se uiteensetting van ons ekonomiese groei teenoor dié van die res van die wêreld ook lagwekkend. In die land van melk en heuning moes ons die ekonomiese groeiprojeksies afwaarts aanpas, vanaf 'n swak 1,3% na 'n treurige 0,7%. Op 'n vorige geleentheid het die president reeds hiervoor voorbrand gemaak toe hy verwys het na die moeilike ekonomiese omstandighede wêreldwyd. Minister Gigaba het hierdie omstandighede vir ons uiteengesit – en dit is waar die vermaaklikheid begin.  Globale groei sal hierdie jaar 'n gemiddeld van 3,6% wees, terwyl die vooruitsig vir Sub-Sahara Afrika 2,6% is. Kenia en Etiopië groei onderskeidelik teen 5% en 8,5% vanjaar. Ek verstaan glad nie hoekom Suid-Afrikaners nie die verskoning van “moeilike omstandighede wêreldwyd” koop nie – dit is dan so duidelik.

In die tweede plek op die vermaaklikheidslys, is die uitspraak dat hierdie begroting die vermoë van werkende mense versterk om sinvolle bydraes tot nasionale hulpbronne te maak. Ek is nie doodseker wat die minister hiermee bedoel nie. Is sogenaamde “betekenisvolle bydraes” 'n verwysing na belasting? Indien wel, slaan hy die spyker op die kop. Hierdie begroting maak dit so ongelooflik moeilik om nie belasting te verhoog nie. Hy sal net moet seker maak die ekonomie groei sodanig dat daar belasting ís om in te vorder. Die swak ekonomiese groei het immers vanjaar beteken dat R50,8 miljard minder belasting ingevorder is as wat ons in Februarie gedink het die geval gaan wees. Minstens, verduidelik die minister net voor ek moed verloor, word ons fiskale stelsel onder ontwikkelende lande bewonder vir die mate waarin dit hulpbronne vanaf rykes na “arm en werkende families” herverdeel.  Ek wil egter met die minister verskil, ek is nie ryk nie, wel werkend, en niks word na my toe herverdeel nie? Trouens, my “betekenisvolle bydrae” word gebruik om hierdie herverdeling te befonds. Wat meer wil 'n mens in elk geval van 'n fiskale stelsel hê as herverdeling?

In die derde plek, en ook dan die wenner van die vermaaklikheidstitel, is die minister se praatjies oor maatskappye in staatsbesit. Hy noem tereg dat dit van die grootste maatskappye in die land is en daarom belangrike hefbome vir die staat is om ekonomiese transformasie te dryf. Minister Gigaba noem spesifiek Eskom, Transnet en SAL as voorbeelde van maatskappye met 'n multi-miljard rand omset. Ek wonder sommer of dit dan ook ekonomiese transformasie se skuld is dat al drie hierdie maatskappye reeds vir jare in omstredenheid gehul is en dat onbevoegde mense (soos die minister erken) keer op keer aangestel word by hierdie maatskappye? Sou dit kon wees dat die regering se rasbeheptheid wat afgedwing word deur iets soos die Preferential Procurement Regulations kan lei tot sub-optimale kontrakte en swak besluite wat uiteindelik ingryping vanaf die Tesourie noodsaak?  Nee, dit kan nie wees nie. Anders sou ons dalk al iets anders probeer doen het…

Die een ligpunt hier, volgens die minister, is dat Transnet 'n patroon vestig om swart rekenkundige firmas aan te stel as interne en eksterne ouditeurs. Nou maak geen fout nie, ek is ongelooflik pro die beginsel dat maatskappye self kan besluit wie hulle wil aanstel en aan wie hulle kontrakte wil toeken, maar ek is bietjie verward dat ons Transnet se sukses meet aan hul ouditeurs se ras.

Die minister noem ook dat die uitvoerende beamptes van hul maatskappye kompeterende salarisse ontvang vir hul professionele kennis en hul vaardighede as bestuurders. Dit is egter belangrik om hier te noem dat die uitvoerende beamptes waarvan hier gepraat word mense soos Brian Molefe en Hlaudi Motsoeneng is.

Die opsomming van Minister Gigaba se toespraak is basies dat dit wat ons tans doen nie werk nie, maar daarom gaan ons meer daarvan doen. Dalk werk dit dan.

  •  
  •  
  •  
Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close