Algemeen, Nuus, Politiek -

Hierdie Week in die Nuus: Ons Inkomstediens

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat 'n mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk. Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in 'n (mismoedige) glimlag.

Ná die afgelope paar weke vermoed ek dat elke groot gerespekteerde maatskappy van nou af aan eerder hul filiale vir hulself sal hou nadat eers SAP, toe McKinsey en nou KPMG by staatskaping geïmpliseer is. Dit is asof daar korrupsie in ons drinkwater is.

Die afgelope twee weke is Suid-Afrikaners bederf met die kronieke van Tom Moyane, KPMG en die SAID se berugte “rogue unit” wat destyds deur Pravin Gordhan op die been gebring is. En wat 'n sirkus was dit nie!

Tom Moyane het hom vandeesweek korrupsie-neutraal gehou terwyl hy good cop, bad cop met KPMG gespeel het, 'n spel waarin hy die goeie en die slegte polisieman was. KPMG het Suid-Afrikaners om verskoning gevra nadat hulle, in eenvoudige taal, nagelaat het om eerlik te wees – iets wat die meeste mense nogal van ouditeure verwag. KPMG se oneerlikheid het die vorm van 'n verslag oor 'n sogenaamde spioenasie-eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aangeneem. Die verslag is aan die SAID oorhandig en ons almal onthou presies hoe dit vir Gordhan uitgewerk het. KPMG het verduidelik dat hul bevindings, aanbevelings en regsopinies wat in die verslag uitgespreek word, nie meer vertrou behoort te word nie aangesien dit nie aan hul eie of algemeen aanvaarde kwaliteitstandaarde voldoen nie.  KPMG is dus korrup. Gelukkig vir Suid-Afrikaners was Moyane daar om ons teen eerlikheid te beskerm.

Moyane was vinniger op sy perdjie as wat Terre’Blanche destyds van hom af was. Hy het verduidelik dat KPMG net die SAID se naam beswadder (so asof die belastingdiens in enige land regtig iemand anders nodig het om sy naam te beswadder) en dat die KPMG-verslag steeds betroubaar is. KPMG is dus nie korrup nie, of hoe? Moyane is beslis 'n welkome spreker op my begrafnis, want selfs as ek 'n skurk was, sou hy ietsie mooi kon sê. Moyane was wel woedend vir KPMG en het woorde soos oneties en onprofessioneel gebruik om hulle te beskryf.  Hy reken ook dat KPMG eintlik verdien om op die swartlys van diensverskaffers vir regeringswerk geplaas te word – trouens, hy gaan ons vlekkelose minister van finansies vra om dit te laat gebeur. Hy verduidelik verder dat die SAID die ouditeursfirma vir sy werk betaal het; dat die verslag daarom aan die SAID behoort; en dat daar met die bevindings gehandel sal word net wat die SAID (Moyane) daarmee wil doen.

Ek is nie seker of Moyane die term “waarheid” verstaan nie. In sy verklaring gaan hy dan voort om te sê dat niemand op grond van die verslag vervolg is nie – so asof hy daardeur die SAID wil verontskuldig van enige optrede op grond van 'n misleidende verslag. KPMG is dus korrup (en Moyane is nie meer op my begrafnis welkom nie).

Aan Moyane het ons die berugte kontrak wat Sassa met Cash Paymaster Services het; die afdanking van 'n groot aantal hoogs gekwalifiseerde personeel by die SAID en 'n BTW-terugbetaling van R70 miljoen aan die Gupta-broers te danke. Moyane was ook (toevallig) in Dubai toe al die ander spelers wat met staatskaping verbind word (toevallig) daar was kort ná Nenegate. Groot moes die spulletjie se verbasing wees toe hulle mekaar (toevallig) in die voorportaal van die hotel raakgeloop het.

Tom Moyane, miskien het die tyd aangebreek om verantwoordelikheid te aanvaar of miskien het dit net tyd geword om op te hou water drink.

  •  
  •  
  •  
Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close