Algemeen, Ekonomie, My geld, Nuus, Politiek -

Hierdie week in die nuus: Ons ontvanger, alweer

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk.  Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in 'n (mismoedige) glimlag.

Vandag is die laaste dag van die belastingseisoen. Dié seisoen is 'n verskynsel wat ek, as iemand wat vanjaar vir die eerste keer belasting moet betaal, nog nie mooi verstaan nie. Ek het probeer uitvind hoe dit werk, wat ek moet doen, watter dokumente ek waar moet ingee, watter deel van my siel ek by watter kantore moet aflewer en wanneer, maar nadat ek met hul belsentrum geskakel het, besef ek dat dit vir my makliker sal wees om net te wag tot ek in dieselfde posisie as Julius Malema is. Soos Malema sê, iemand moes regtig net vir hom kom sê het: “Julius, you have made a mistake. Let us sit and correct this,” dan sou hy nooit belasting ontduik het nie. Moontlik vir die heel eerste keer in my lewe voel ek vir jou, Julius.

Ek sal egter bieg dat ek 'n tikkie bevooroordeeld is oor ons ontvanger. Nie omdat ek anti-belasting groot gemaak is of rebels is nie, net omdat ek nuus lees – en SARS haal die nuus vir ál die verkeerde redes.

Jonas Makwakwa – die man wat saam met sy 26-jarige nooi, Kelly-Ann Elskie, geskors is nadat hul beweerde ongerymdhede in die media gelek het – het onlangs teruggekeer na die belastingdiens. Behalwe dat hy een van die magtigste septerswaaiers by SARS is, is hy ook die besbetaalde. Hy het die afgelope finansiële jaar 'n bonus van R930 000 ontvang en sy totale inkomste is byna R5 miljoen vir die jaar. Hierdie bonus is ook deel van dié waaroor belastingbaas Moyane en oud-minister Pravin Gordhan so vasgesit het. Dit was die keer wat die belastingbaas skielik geweier het om verslag te doen aan die minister van finansies en bonusse ter waarde van R3 miljoen uitbetaal het sonder die minister se toestemming. Maar terug by Makwakwa se vergoedingspakket – dit is nie sleg vir 'n man wat net 6 maande van die finansiële jaar gewerk het en die res van die tyd geskors was nie. Dit begin vir my lyk asof dit lonend is om uit die staatsdiens geskors te word. Jy kan geen verdere foute maak in jou amptelike hoedanigheid nie, jy verdien steeds 'n salaris en blykbaar kan jy 'n prestasiebonus ontvang.

Makwakwa is darem voor sy terugkeer verhoor. Soortvan. Tom Moyane, ons groot belastingbaas, het minstens 'n poging aangewend om dit soos 'n regte-egte verhoor te laat lyk. Omdat ons egter goeie joernaliste het, weet ons dat die regsfirma wat die verhoor moes hanteer, Hogan Lovells, 'n verskoning gehad het vir elke klag wat die moeite werd is om teen Makwakwa te ondersoek. Eerstens kon hulle nie die klagtes wat deur die Valke ondersoek word intern hanteer nie, aangesien die ondersoek deur die Valke nog nie afgehandel was nie. Dít alles het hulle geweet sonder om een keer self met die Valke in kontak te tree. Toe mag hulle nie PwC se verslag oor Makwakwa en Elskie se geheime betalings ontvang nie, want SARS sê so. Ook mag hulle nie toegang tot Makwakwa se belastingrekords ontvang nie, eers omdat hulle gedink het die wet stipuleer dat niemand dit mag kry nie, toe klink dit asof hulle eerder dink dat die wet stipuleer dat hulle dit nie mag kry nie omdat hulle 'n regsfirma is en tóé omdat die wet stipuleer dat hulle dit nie mag ontvang nie as gevolg van die kapasiteit waarin hulle aangestel is. Dit is 'n redelike uitdaging om 'n interne verhoor te hou oor twee mense wat van korrupsie en belastingontduiking verdink word as jy nie toegang het tot enige van die bogenoemde dokumente nie. Nodeloos om te sê, hy is nie van enige klagtes wat wel teen hom gelê is skuldig bevind nie. Dit is amper asof hierdie proses spesiaal aangepas is om by die omstandighede te pas – die omstandighede is dat Moyane regtig graag vir Makwakwa daar wil hou.

Hierdie in ag genome, is dit ook geen wonder dat die ouditeur-generaal gesê het dat hy geen vertroue in SARS se interne bestuursprosesse het nie. Die ontvanger het immers 'n R50 miljoen tekort in omset en die voorspelling is dat dit sal vergroot na die einde van hierdie finansiële jaar.

Na dit alles gesê is, geniet asseblief die indiening van jou belastingopgawe indien jy dit nog moet doen.  Ek herhaal net die heeltyd in my kop die sinnetjie wat my ouers, 'n goeie protestantse kerk en die dominee in my ingeprent het: “Gee die keiser wat hom toekom.”

  • 82
  •  
  •  
Estella Boshoff Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close