Algemeen, Nuus, Politiek -

Hierdie Week in die Nuus: SA en Middelmatigheid

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk.  Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in 'n (mismoedige) glimlag.

Ek verstaan nie die Suid-Afrikaanse regering se liefde vir middelmatigheid nie.  Ons regering hou só baie van middelmatigheid dat hulle kommissies op die been bring om dit te beskerm.  In plaas daarvan om dit die Middelmatigheidskommissie te noem, noem hulle dit die Kompetisiekommissie.  Die naam is effens verwarrend, hulle moes dit eerder die anti-kompetisiekommissie genoem het.

'n Vriend wys hierdie week vir my uit dat 'n kompetisie gewoonlik dieselfde patroon volg – daar is 'n kompetisie waartydens een van die kompeteerders as die beste bestempel word en die res nie. In die besigheidswêreld is die kompetisie meer kontinu en mag dit wees dat wie presies die beste is redelik gereeld wissel. Die punt bly egter staan, dat kompetisie daar is om te bepaal wie die beste is.  Dit is egter nie heeltemal die Kompetisiekommissie se idee van kompetisie nie.  Hierdie week het hulle aangekondig dat hulle Vodacom se onlangse kontrak met die Tesourie gaan ondersoek, aangesien Vodacom die beste was. Die Tesourie en Vodacom het beide bevestig dat die Kompetisiekommissie betrokke was tydens die oop tenderproses. Vodacom het die tender volgens die Tesourie gewen weens “the absence of other solid value propositions”.  Die Kompetisiekommissie voer aan dat dit regverdig is om te sê dat Vodacom die beste netwerk het, maar dit hul kompeteerders materieel sal verswak en daarom moet dit ondersoek word.  As jy daardie sin die heel eerste keer verstaan, moet ek jou geluk wens.  Ek moes dit vyf keer deurlees om te verstaan hoekom die Kompetisiekommissie iemand moet ondersoek omdat hulle beter is as die ander rolspelers in die mark.  Om eerlik te wees, ek verstaan dit steeds nie. Al wat ek kan dink is dat uitnemendheid gehaat word en middelmatigheid beskerm word. Dit is absurd.  Dié aankondiging het Vodacom se aandeleprys tot 8% laat val, terwyl die kommissie soos 'n skurk á la Disney sit en lag terwyl die privaatsektor rondom hom inmekaartuimel.  Weereens, absurd.

Die Ministerie van Minerale Hulpbronne is nóg 'n perfekte voorbeeld hiervan. Dié ministerie is so gefokus op transformasie dat hulle eerder 'n getransformeerde dog middelmatige mynbousektor sal hê, as 'n transformerende en uitnemende mynbousektor.  Minister Zwane het hierdie week 'n paar juwele kwytgeraak by die Joburg Indaba. Een daarvan was dat persoonlike aanvalle teen hom daarop gemik is om hom en sy kantoor te ondermyn. Ja, Suid-Afrika, ons Minister van Minerale Hulpbronne is so middelmatig dat hy nie verstaan dat sy onwilligheid om enige rolspelers in die mynbousektor te raadpleeg wanneer hy beleid skryf hom en sy kantoor ondermyn nie. Verder nog ook dat dit hom en sy kantoor ondermyn wanneer hy nie vrae antwoord oor sy verbintenisse met die Gupta’s nie.

Darem het ons nog ons rugby…  O nee, wag – middelmatigheid is Suid-Afrika se nuwe credo.

  •  
  •  
  •  
  •  
Estella Boshoff Deur Estella Boshoff


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close