Algemeen, Nuus, Politiek -

Hierdie week in die nuus: SAL se opelugkonsert

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk.  Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in 'n (mismoedige) glimlag.

Dit mag miskien voel asof ek 'n paar onderwerpe het wat ek heeltyd afwissel. Dit is egter nie omdat ek nie moedig probeer om elke week 'n nuwe onderwerp te kry nie, dit is net dat SAL, Eskom en SARS die nuus só oorheers, en dan boonop fantastiese materiaal vir 'n grappie of twee is.

Ons nasionale lugredery het in die parlement aangekondig dat hulle steeds sowat R13,8 miljard skuld.  Dit is reeds 'n reuse verbetering op die vroeëre skuld van meer as R16 miljard, maar ek moet beken, sodra daar meer as ses syfers in 'n bedrag is, is daar nie regtig meer 'n goeie begrip by my van hoeveel geld dit is nie. Daarom verwerk ek dit graag na skoenbokse toe: tydens 'n hofsaak in die VSA het 'n speurder bepaal dat daar 7 400 note in 'n skoenboks kan pas. As ons aanneem dat dit ongeveer dieselfde vir Suid-Afrikaanse note is en SAL hulle R200-note in skoenbokse bêre, skuld hulle 9 324 en een derde skoenbokse op die oomblik. Hulle het natuurlik hierdie jaar reeds R10 miljard (6 756,76 skoenbokse) van die tesourie ontvang, maar is, ten spyte hiervan, steeds 'n sowat R9 miljard (6 081,08 skoenbokse) ekwiteit tekort. Die lugredery verwag dat hul verlies vir hierdie finansiële jaar R4 miljard (2 702,7 skoenbokse) sal wees.

Indien SAL werklik hul R200-note in skoenbokse bêre sal dit ook verklaar waarom dit so maklik is om korrupsie by die lugredery te pleeg.

Daar is egter iets erger as hierdie bedrae en dit is dat sommige van ons parlementslede skynbaar dink dat die probleem nie regtig by SAL lê nie. Jy sien, die probleem lê eintlik by die opelugbeleid (“open skies policy”) waarop lugvaart in Suid-Afrika geskoei is. Na aanleiding van die naam (en in my jeugdige naïwiteit) het ek gedink dat die lugruim oop is vir enige lugredery om in te vlieg. Hoe hierdie beleid egter werk is dat die Suid-Afrikaanse regering met ander regerings wedersydse ooreenkomste sluit oor lugvervoer. Net ter voorbeeld – ons regering sluit 'n ooreenkoms met die regering van Rusland (want hulle is ons gunsteling regering in die hele wêreld) wat eerstens bepaal dat ons na mekaar mag vlieg, maar ook hoeveel vlugte of sitplekke op die roete beskikbaar mag wees van elkeen se kant af.  Wanneer hierdie ooreenkoms in plek is, is die lugruim oop (met terme en voorwaardes van die ooreenkoms geldend). Ons lugruim is dus bykans so gereguleer as wat dit kan wees as mens nog wil beweer dat dit in 'n vryemark opset funksioneer.

Steeds het Pinky Kekana, 'n ANC-LP, Woensdag voorgestel dat hierdie beleid hersien word. Haar woorde (letterlik vertaal) was: “Ons lugruim is te oop.” Sy het verder gegaan om te sê dat daar geen manier is dat ons nie ons nasionale lugredery kan ondersteun nie. Interessante stelling – want daar is so manier. Ons noem dit ‘keuse’. As ek byvoorbeeld 'n keuse gehad het om met enige ander redery as SA Express na Kimberley te vlieg, het ek dit gekies. Maar, ek het nie, want SAL het my keuse weggeneem deur die belastingbetaler se geld te gebruik om te verseker dat hul 'n monopolie op die roete behou. Let wel, ek sou dit nie kies net omdat ek nie van SAL hou nie, ek sou dit kies omdat die SAL-vlug na en van Kimberley bykans altyd vertraag is en hulle geen moeite doen om daarop te verbeter nie, want daar is niemand wat met hulle kompeteer nie. SAL kan ongeveer so swak wees as wat hulle wil en ek gaan steeds met hulle Kimberley toe moet vlieg.  Dít is hoe oop ons lugruim is.

Die nuwe voorsitter van die direksie het ook genoem dat SAL, anders as meeste ander maatskappye in staatsbesit wat in 'n monopolie-situasie funksioneer, in 'n vryemark kompeteer.  Miskien was dit net slegte tydsberekening van die voorsitter, JB Magwaza, maar dit maak my vreeslik bekommerd dat dít die trant van gesprekke is wat gevoer word.  Hierdie is om die kompetisie te probeer wegneem omdat jy te swak is.

En weereens laat dit my met die vraag: Waarom haat Suid-Afrika uitnemendheid?

  •  
  •  
  •  
Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close