Nuus, Politiek -

Hierdie week in die nuus: Singh, tortelduifie!

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk.  Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in ‘n (mismoedige) glimlag.

In die lig van sowel die Proteas as Indië se swakkerige eerste kolfbeurte (Rabada het immers die derde meeste lopies vir die Proteas aangeteken), het ek besluit om my TV-tyd vandeesweek te gebruik om na Anoj Singh se getuienis in die Eskom-ondersoek te kyk. Singh het vandeesweek sy paaltjies só goed beskerm dat ek dink ons kan Markram na hom toe stuur vir 'n les of twee.

Die aanlyn publikasie, Daily Maverick, het in een van hul artikels genoem dat Anoj Singh se ruggraat tydens sy getuienis voor die parlement afwesig verklaar is. Dit is omtrent al wat definitief en sonder twyfel uit sy getuienis geblyk het. Wat die meeste ander dinge betref, kon Singh nie onthou of verklaar nie; was hy nie seker oor nie; het hy nooit daarvan geweet nie of was dit nie deel van sy verantwoordelikhede nie. Wat wel 'n jammerte is, is dat dit hom elke keer by die drie minute geneem het om te verduidelik dat dit sy posisie is. Dit kon veel vinniger gegaan het as hy meer dramaties was. In my geestesoog sien ek die toneel hom voor my afspeel waar hy instap, sy geskrewe verklaring op die tafel voor die voorsitter neersit, iets melodramaties oor 'n mikrofoon sê, die mikrofoon neergooi en uitstap terwyl 'n liedjie soos “U Can’t Touch This” van MC Hammer speel. Dit voel vir my 'n mens moet minstens óf vermaaklik óf eerlik en reguit wees as jy op TV gaan verskyn (en as jy al drie kan regkry, is jy waarskynlik 'n komediant.) Aan die anderkant is ek bly hy het dit nie gedoen nie, want dan sou ek moes krieket kyk.

Wat wel effens vermaaklik was van Singh se getuienis, was sy gesigsuitdrukkings. Elke keer wat 'n vraag aan Singh gevra is, het daar so ’n uitdrukking van 'n kind wat jok oor sy gesig gekom. Ek onthou nog goed hoe ek van daardie selfde gesigsuitdrukking gebruik gemaak het om te probeer bewys dat ek regtig glad nie kan onthou dat my ma gesê het ek moet die kleingeld nadat ek brood en melk gekoop het vir haar bring nie. 'n Mens frons baie diep, kyk met 'n strak gesig af grond toe of jy kyk op na die dak, miskien kyk jy so 'n bietjie na links en regs om darem ook te wys dat jy regtig diep dink en dat jy hard probéér om te onthou dat jou ma dit wel gesê het. Ná so 20 sekondes skud jy stadig jou kop en sê dan dat jy beslis nie die opdrag kan onthou nie – dit alles terwyl jou hart bykans uit jou borskas ruk soos hy bons, jou handpalms sweet en jy eintlik besig is om te besluit of die twee Wilson-toffies wat jy met die kleingeld kon koop regtig die skuldgevoel van 'n wit leuentjie werd is.

Ek verstaan nou hoekom my ma kwaad was oor haar R2 – dit het waarskynlik glad nie oor die R2 gegaan nie, maar eerder omdat sy nie wou hê dat ek eendag met daardie gesigsuitdrukking voor die parlement moet sit en dink niemand weet ek jok oor veelvoude van R2 miljard nie. Dit is miskien nog 'n bietjie vroeg om te sê, maar ek wil myself verstout om te sê dat my ma wel in haar opvoedingstaak geslaag het.

'n Mens moet so iets egter nooit té vinnig sê nie. So byvoorbeeld het Brian Molefe homself waarskynlik ook op die skouer geklop elke keer wat hy nie die staatsamptenaar was wat oneerlik opgetree het nie. Eens op 'n tyd was Molefe vir ons 'n ligpunt in die staatsdiens – hy was gefokus, inspirerend en hardwerkend. Maar dit was in ander tye en dit was 'n ander Brian met 'n ander vrou en ’n ander president. Ek wonder of Brian se hande in die hof gesweet het en sy hartklop gevaarlik hoog was terwyl hy gesit en wonder het of hy genoeg Wilson-toffies kon koop om hierdie vlek op sy naam die moeite werd te maak.

  •  
  •  
  •  
  •  
Estella Boshoff Deur Estella Boshoff


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close