Algemeen, Nuus -

Hierdie week in die nuus: Totsiens, Tegeta!

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry as jy jou neus in die nuus steek. Met vandeesweek se “Hierdie-week-in-die-nuus”-rubriek gaan ek probeer om jou moedeloosheid in 'n (mismoedige) glimlag te verander.

 

Pas nadat ek begin wonder het waaroor 'n mens in 'n nuusblog kan skryf as die nuusfront nie vreeslik opwindend is nie, het die Gupta-broers my gered. Ek was Maandag reeds meer as net 'n tikkie verbaas toe die familie aangekondig het dat Jimmy Manyi hul mediabates gekoop het, maar die “slaan-my-om-met-'n-nat-vis”-oomblik het eers Woensdagoggend aangebreek toe die verkoop van Tegeta aangekondig is.

 

Ek noem dít wat tussen Manyi en die Guptas se media-maatskappy gebeur het “koop” by gebrek aan 'n beter woord. In die ooreenkoms tussen Manyi en Oakbay Investments (wat die maatskappy besit wat ANN7 en The New Age besit) is Oakbay sowel die verkoper as die finansier. Dit is algemeen bekend (maar bevestig deur professor Alex van den Heever, verbonde aan Wits) dat hierdie tipe befondsing veral gebruik word in SEB-transaksies en dat een van die partye meestal verloor. Óf daar is te veel geld wat die koper moet terugbetaal, óf die verkoper onderwaardeer die prys van die aandele. Ons kan die laaste opsie met geruste harte skrap – eerstens omdat ek 'n sterk vermoede het dat die Gupta-broers nie sommer hulself sal indoen nie en tweedens omdat die waarde sedert 2015 sou moes vertiendubbel om 'n prysetiket van R450 miljoen vir die mediamaatskappy te regverdig.

 

As ons verby die finansiële aspek van die ooreenkoms kyk, hou die mediatransaksie min in wat vreemd is – 'n voormalige regeringswoordvoerder wat 'n spesiale obsessie met Zuma, wit monopoliekapitaal en die Guptas het, moes in een of ander stadium 'n mediahuis wat pro-Zuma en pro-“radikale ekonomiese transformasie” is van die Guptas oorgeneem het.

 

Die stof het kwalik gaan lê ná die bekendmaking van hierdie storie, toe vind die volgende verklaring reeds sy weg vanaf Saxonwold na die media. Ek noem dit die “volgende” verklaring juis omdat dit nie werklik 'n ander verklaring is nie. Dit is bykans net die naam van die koper en die verkoopte maatskappy wat in die tweede geval verander het. Net soos in die geval van die eerste verklaring was Oakbay luidens die bewoording van die tweede verklaring “bekommerd” oor hul eienaars se reputasie en hul werknemers se welstand.

 

As 'n mens in gedagte hou dat die Gupta-broers byna Eskom en Glencore laat sink het sodat Tegeta die myne in hul besit kon bekom, is die gebrek aan glamour by die verkoop daarvan nogal 'n antiklimaks. Die myne is aan 'n Switserse maatskappy verkoop wat eintlik belange in die modebedryf het en waarvan die eienaar mateloos opgewonde is oor die geleenthede in Suid-Afrika se mynbousektor. Dit alles terwyl bykans 20 000 afleggings soos 'n swaard oor die sektor hang en terwyl daar konsensus onder internasionale maatskappye heers dat 'n mens nie saam met minister Zwane in een land kan myn nie. Ten spyte daarvan dat hul markkapitalisasie ongeveer R1,4 miljoen is en die myne net onder R3 miljard kos, is Charles King SA, die maatskappy wat nou die eienaar van Tegeta se myne is, nie 'n té ongewone kandidaat om Tegeta se myne te koop nie. Die eienaar van Charles King SA het glo al voorheen die Gupta-familie gehelp om bates “weg te steek.”

 

Dalk het Tony Gupta net die verkeerde ontvangsdame genooi om vir haarself 'n “swart nommertjie” vir 'n aandjie saam met hom aan te skaf. Sy het verkeerd verstaan en in plaas van 'n rokkie skaf sy toe maar 'n steenkoolmyn aan.

  •  
  •  
  •  
Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close