Algemeen, Nuus, Politiek -

Hierdie Week in die Nuus: Verlore Geloof in Faith

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk.  Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in 'n (mismoedige) glimlag.

Die naam “Faith” het die afgelope jaar waarskynlik meer in die media verskyn as die woord “faith” in 'n Engelse Bybel. Dit is nie omdat die media skielik 'n spesiale verhouding met Christenskap ontwikkel het nie, maar eerder omdat ons agbare minister Faith Muthambi 'n spesiale verhouding met oneerlikheid het, en die media graag hieroor skryf.

Minister Muthambi se top drie moet vandag aan haar verduidelik waarom hulle nie geskors moet word nie. Die finansiële hoof, direkteur-generaal en adjunkdirekteur-generaal is al drie met kennisgewings van hul skorsing bedien, skynbaar omdat hulle nie saamstem met die rigting wat minister Muthambi wil hê die departement moet inslaan nie en omdat hulle te streng is met die departement se beursie. Minister Muthambi (en ek ook) wil graag hê dat haar departement 'n voorbeeld moet wees vir ander departemente wat administrasie aanbetref. Ek stem egter nie saam met die agbare minister oor hoe presies mens hierdie voorbeeld bereik nie. Ek sou dink dat mens iemand wat seker maak dat uitgawes binne 'n departement geregverdig is, iemand is wat mens hou wanneer jy van jou departement 'n voorbeeld wil maak. Blykbaar is dit nie so nie, aangesien sy seker maak dat almal wat dit probeer afgedank word.

Sonder om te sinies te klink, maar ek (en ek glo elke ander Suid-Afrikaner) het dit tog maar verwag. Die agbare minister se paadjie tot by hierdie ministerspos lê besaai met geregtigheid, eerlikheid en deursigtigheid se lyke. Ek moet wel hier 'n bietjie krediet gee aan ons hooggeagte president. Kort nadat 'n parlementêre ondersoekkommissie 'n ondersoek oor die wanbestuur by die SAUK voltooi het, en aanbeveel het dat president Zuma minister Muthambi se pos as minister van kommunikasie heroorweeg, het hy dit inderdaad gedoen. Haar pos is heroorweeg, sy is uit die pos verwyder … en aangestel as minister van openbare werke.

Ek wonder wat presies op haar CV het hom oortuig dat dit 'n goeie plan. Was dit die swak verskonings en verklarings wat sy gehad het toe haar ongerymdhede by die SAUK oopgevlek is?  Was dit die feit dat sy deur 'n ondersoekkommissie as onbevoeg verklaar is? Of miskien die feit dat sy parlement probeer mislei het toe sy moes getuig oor wat presies by die SAUK aangaan. Miskien is dit eerder omdat sy ondersoek word as gevolg van haar verbinding met die Gupta-familie en staatskaping.

Indien die tendens voortgesit word, verwag ek om binnekort 'n bevordering of salarisverhoging vir minister Muthambi te sien. Sy het intussen bykans R300 000 (sommige bronne berig R500 000) belastinggeld uitgegee om vriende en familie Kaapstad toe te vlieg vir haar begrotingsrede, R3,2 miljoen binne 5 maande op imbizos spandeer waarmee sy poog om die publiek te bereik, verskeie aantygings van nepotisme teen haar probeer ontduik en parlementêre komiteesittings waar sy verantwoordelik gehou sou word gemis. Alhoewel minister Muthambi nie 'n gewoonte daarvan maak om vrae te beantwoord nie, het sy wel heftig gereageer op die klagtes van nepotisme teen haar. Sy het in die parlement verduidelik dat sy 9 familielede aangestel het, maar dat hulle goeie burgers is en verdien om aangestel te word. Daarna het haar woordvoerder verduidelik dat sy gesê het “mense” eerder as familielede. Kort daarna het die woordvoerder beweer dat sy gesê het ”none” eerder as “nine”.

Dalk moet ons eerder bly wees as minister Muthambi in stilte ons geld vermors – ek voel meer beledig as sy begin praat en verwag dat ek moet glo wat sy sê wanneer sy my geld steel sonder om te blik of te bloos.

  •  
  •  
  •  
Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close