Algemeen, Nuus, Politiek -

Hierdie week in die nuus: 2018 tot dusver

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk.  Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in ‘n (mismoedige) glimlag.

Terwyl die meeste van ons nog die laaste bietjie seesand uit ons motors, klere en huise probeer kry, is daar Suid-Afrikaners wat toegewyd daaraan werk om toe te sien dat joernaliste werk het en koerante iets het om te verkoop. Hierdie groepie Suid-Afrikaners bestaan natuurlik hoofsaaklik uit politici en staatsamptenare, maar selfs hul ego’s het hierdie feesseisoen plek gemaak daarvoor dat behoorlike aandag aan die Steinhoff-debakel gegee kan word. Dit was immers die seisoen van vrygewigheid.

Hier volg die belangrikste stories wat ek meen elkeen van ons van kennis moet neem voordat die jaar werklik spoed optel:

  1. Die DA is tans gewikkel in twee moddergevegte, een intern en die ander met die ANC – en dit nogal te midde van 'n droogte. Die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, het weer 'n nuwe waterplan aangekondig. Dit sou waarskynlik minder nodig gewees het as daar van die eerste waarskuwings af effe beter beplan was, maar ook as 60% van die stad se inwoners nie geweier het om die waterbeperkings na te kom nie. Dit is belangrik om hier te noem dat as Kaapstad besig was om matriek te skryf in plaas daarvan om 'n droogte af te weer, hulle netjies deur sou wees. . Die ANC probeer tans sy bes om ook 'n rassekrisis van die waterkrisis te maak. Dit staan egter soos 'n paal bo water (of land) dat droë krane almal raak en nie huise volgens politieke oortuiging, ras, geslag of taal sal uitkies nie.
  2. Die EFF het moontlik sy besigste week sedert sy stigting gehad. Dit het sommer Sondag al begin met 'n protesaksie by H&M-winkels reg oor die land waar die EFF dalk letterlik hul koudste en hardste teenstanders tot nog toe teëgekom het – winkelpoppe is immers nie bekend vir hul warm en sagte omhelsings nie. Daar is meer as een ding wat ek vermoed H&M nie weer sal doen nie: Eerstens vermoed ek dat hulle nie weer sal dink 'n kindermodel wat 'n oulike truitjie dra en oulik glimlag noodwendig 'n oulike advertensie gaan wees nie. Tweedens twyfel ek of hulle weer 'n slagspreuk met 'n apie as tema op enige iets sal druk. Derdens twyfel ek of hulle verder in Suid-Afrika sal belê en werk skep. Gelukkig is dit so dat ons dit haat om 'n groeiende ekonomie te hê waarin internasionale maatskappye belê, anders sou ons dalk slaap daaroor moes verloor dat die EFF toegelaat word om sulke belaglikhede aan te vang. Skaars was hulle klaar om klere rond te gooi of hulle moes by Hoërskool Overvaal saamtrek. Dit is iets waaroor ek nie kan glimlag nie en daarom kan ek ook nie veel meer daaroor hier skryf nie.
  3. Ons Ontvanger het die agenda van die Britse House of Lords gehaal. Ten spyte daarvan dat minstens 12% van my liggaamsgewig uit gesonde sinisme bestaan, het ek gehoop dié prestasie hou verband met iets positiefs soos ons bekroonde e-filing-stelsel. Dit was toe egter nie die geval nie. Lord Peter Hain het die Britse prokureursowerheid, die Solicitors Regulation Authority, versoek om Hogan Lovells se lisensie om as prokureurs te praktiseer terug te trek en verdere dissiplinêre stappe teen die firma se voorste vennote te neem. Dit volg nadat dié firma oor die dissiplinêre proses teen Jonas Makwakwa, Tom Moyane se adjunk by die SAID, moes toesig hou. Ek het reeds 'n blog daaroor geskryf en om herhaling te voorkom, noem ek slegs dat Hogan Lovells se toesig maar aan die treurige kant was.
  4. Minister Bathabile Dlamini het skynbaar 'n hele paar rand opgedok sodat Anele Mdodo 'n eksklusiewe onderhoud met haar kon voer. Luidens verskeie mediaberigte is geen moeilike of harde vrae tydens die hele onderhoud aan die minister gevra nie en was dit na bewering net 'n bemarkingsfoefie waarvoor die SABC gebruik is. Die vervaardiger van die program, Real Talk with Anele, waarin Dlamini verskyn het, verskil egter van dié siening. Ek het probeer vasstel wat die ware toedrag van sake is, maar kon groot dele van die onderhoud ongelukkig nie volg nie want dit was nóg in Engels, nóg vermaaklik.

'n Mens dink soms dat Suid-Afrika teen 'n ietwat stadiger tempo as die res van die wêreld beweeg. Ek dink egter dat 'n land wat binne die eerste 18 dae van die jaar soveel sappige nuusstories kon oplewer, miskien net verkeerde prioriteite het.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close