Algemeen, Gemeenskappe -

Hoe durf jy wit wees?

Vanaand gaan ek redelik eenvoudig en baie reguit griffel.

Gister skakel ek die adjunkminister van polisie, Bongani Mkongi, se sogenaamde woordvoerder, Tom Siyabulela, na aanleiding van die verklaring waarin hulle onder meer die volgende te sê gehad het:

In fact this march today led by Afri-Forum (sic) is just a political statement and disregard of many lives of black people that has been destroyed by a merciless and inhumane apartheid, racist, colonial regime. The Dichotomy of the marches today exposes the deep seated racist agenda of the Ku Klux Klan of the type of Hitler fascist mafia in South Africa expressing itself through Afri-forum (sic). [My beklemtoning]

En ook

They decided to identify themselves with the likes of international stability nemesis, ISIS, whom have made it their business to burn flags of democratic states. It should be categorically stated that burning of any state symbol can be equated to the utmost violation of the constitution of our country, thus can be treated as treason. 

Hy antwoord die oproep dadelik, sonder om te weifel, maar ook sonder enige bedoeling om hulpvaardig te wees, slegs met die woord “Hallo”. Ek vra ewe beleefd in Engels: “Goeie middag. Ekskuus met wie praat ek?” waarop hy toe dadelik begin om my aan te val en te skreeu: “No, no no, no that is not how it works!” Ek vra toe om verskoning en vra toe of hy wel die woordvoerder van die SAPD is, waarop hy my uitskel: “You must identify yourself!” Toe ek nog 'n vraag wou vra, sit hy die foon in my oor neer.

Wat maak ek van hierdie oproep? Hy is dalk oorval deur navrae omdat die verklaring so afgryslik is. Hy is dalk verwaand en het ewe skielik, danksy die adjunkminister, mag verkry, maar my gevoel was dat hy dadelik agtergekom het ek is Afrikaans en wit en dat hy my van die staanspoor op my plek wou sit. Dit was die uiterste en blatante rassisme wat weereens afkomstig was uit die kantoor van die minister van polisie. Die woordvoerder weet wat gister in die land gebeur het. Hy weet wat sy adjunkminister geskryf het en hy weet dit is hoekom ek skakel.

Toe ek later effens gefrustreerd terugry huis toe en van die frustrasie probeer ontslae raak, besef ek hierdie voorval was net die laaste strooi – daar was iets anders wat my die hele dag gekwel het en dit was die mense wat op sosiale media aangedui het dat hulle aan die #swartmaandag gaan deelneem, maar hulle probeer eers hulself regverdig, so asof hulle jammer sê dat hulle die boere jammer kry, jammer omdat hulle die aksie ondersteun. Daar word gesê mense moet tog verstaan dat hulle teen alle moorde gekant is; dat hulle bang is dat ander dink hulle staan saam met die boere; dat hulle bang is dat mense hulle as regs afmaak. Hulle is eintlik jammer dat hulle wit is. Hoe durf jy wit wees? Môre, as jy opstaan en dit is Dinsdag, is jy steeds wit.

Ek besef toe dat dit die bron van my grote ontsteltenis is. Ek verstaan dat dit veral vir swart mense moeilik en uitdagend was om hierdie geleentheid te ondersteun, en tog was daar ook swart mense wat die optogte meegemaak het. Sommige mense het egter apologeties aan die belangrike aksie deelneem. Party het dit selfs blatant afgemaak as snert en selfs stokou foto’s van Eugène Terre’Blanche se begrafnis getwiet en gepubliseer asof dit foto’s van Maandag se gebeure was.

Met die aksie het jy wat so apologeties was, bloot die feit geïgnoreer dat plaasmoorde 'n probleem is en het jy dit weereens oor dieselfde kam as enige ander moord geskeer – dieselfde as 'n mal “boyfriend” wat sy meisie met 'n mes doodsteek of 'n dronk lafaard wat 'n man in 'n kroeg met 'n stukkende bierbottel doodsteek. Jy maak die moord op boere af as net nog 'n moordstatistiek.

Waarom mag ons nie nét vir hulle opstaan nie? Ek weet waarom!

Hoe durf die boere wit wees? Ek het nuus vir jou!

Skaam jou as jy verskonend aan Maandag se optrede deelgeneem het. Ek is op die punt om die apologetiese spul van my eie sosiale media te verwyder – diegene wat nie bloot kan opstaan en sê:  “Genoeg is genoeg, sover dit alle moorde aangaan, maar veral wat die brutale moorde op ons boere aangaan.” Jy mag, weet jy? Jy mag maar daarvoor opstaan. Dit maak jou nie 'n rassis nie. Dit is die media, die regering en die liberales wat jou afmaak as anders, ouderwets en kommin, maar dit wat jy regtig in jou hart voel, daardie empatie en omgee, is wat werklik moet praat.

Ek het tydens ons #Swartmaandag-huldiging langs Mariandra gestaan. Ek het die bewing in haar stem gehoor en die sterk, maar benoude woorde. Al wat sy oor het, is hoop al is haar man voor haar en haar dogtertjie tussen sy oë geskiet. Sy het steeds hoop. Moenie haar moed breek nie!

Elke slagoffer in hierdie land verdien een minuut se stilte. Die keer was dit vir 'n slag die boere se beurt. En jy het hulle dit ontneem.

Neem 'n happie van jou brood en geniet jou beskuit rustig met jou koffie vandag, maar onthou waar die kos in jou mond vandaan kom.

Ek salueer elke boer wat nog met moed en durf uithou en in hierdie land glo. Daar is nog baie mense wat vir julle sal veg. Sterk staan!

Naskrif:

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het intussen bevestig dat nog drie mense die afgelope 48 uur in ses plaasaanvalle vermoor is. “Bokkie Potgieter van Vryheid is doodgekap, Barry Baars van Ficksburg is doodgeskiet en Willie Barnard van Fochville is ook doodgeskiet,” het Cameron bevestig.

  •  
  •  
  •  
Juran van den Heever Deur Juran van den Heever


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close