Algemeen -

Hoe het die VSA die wêreld se grootste ekonomie geword?

Die flieks waarna ons kyk kom meestal uit Amerika, so ook die res van die “kultuur” wat ons uitleef. Dink maar aan Hot Wheels-karretjies en Barbiepoppe en ons skielike gewoonte om sportnutsvoertuie te hê eerder as die sedans van 'n paar jaar gelede.

Maar Amerika was nie altyd die groot wêreldmag wat dit vandag is nie Om die waarheid te sê, toe Kaapstad gestig is het die VSA, soos ons dit ken, nog nie bestaan nie. Dit het toe net uit 'n paar klein kolonies, meestal Engelse en Franse kolonies, bestaan. Selfs in 1776, toe die VSA tot stand gekom het, was dit maar 'n stinkende hool. Die meeste mense, selfs kinders, was dikwels dronk en die lewensverwagting was laag. Landboupraktyke wat toe al in Europa gevestig was, was op enkele uitsonderings na toe nog nie in Amerika gevestig nie. As jou weiding opgevreet was, het jy met jou beeste dieper die binneland ingetrek. Boonop was feitlik die hele swart bevolking slawe wat, nodeloos om te sê, nie 'n ideale ekonomie is nie, nie vir die slawe nie en ook nie vir hul eienaars nie. Mense is nou maar eenmaal geneig om harder te werk as hulle vry is om die vrug van hul arbeid te geniet.

Eers toe regerings in elke staat gevestig is en mense daardeur tot beskawing gedwing is, het hulle ophou rondtrek. Toe mense permanente wonings bou en nie meer rondtrek nie, moes hulle natuurlik verantwoordelikheid vir hul onmiddellike omgewing aanvaar want dit is waar jy vir die res van jou lewe moet boer. Daardeur is verbeteringe soos heinings aangebring en skielik was die grond baie meer produktief. Kort daarna het die nywerheidsrewolusie die VSA bereik en fabrieke het hul verskyning gemaak.

'n Mens met 'n masjien is baie meer produktief as 'n mens daarsonder, en die ekonomie het baie vinnig begin groei. Omdat die VSA se belasting relatief laag was en mense vry was om welvaart op te bou en te hou, kon hulle baie vinnig baie ryk word. Verantwoordbaarheid vir privaat eiendom was die sleutel tot sukses.

Dit was egter eers ná die Tweede Wêreldoorlog wat die VSA begin het om 'n prominente rol in die kultuursfeer in te neem. Daardeur is die waardes en deugde van persoonlike vryheid oral gevestig. Ongelukkig skop party lande steeds daarteen deur te glo dat die staat beter na mense kan kyk as wat hulle self kan doen.

Voor die 1800’s was Sjina en Indië die wêreld se grootste ekonomieë. In daardie tyd was die som heel eenvoudig: Amper almal in die wêreld was arm, derhalwe was die land met die meeste arm mense die rykste land as dit bymekaar getel word. Die VSA was een van die eerstes wat hierdie reël verbreek het deur hul toe heelwat kleiner bevolking toe te laat om heelwat meer welvaart as in ander lande te versamel. Party mense het ongelooflik ryk geword. Elon Musk het byvoorbeeld vandag meer geld as almal in Suid-Afrika, Gauteng en die Wes-Kaap uitgesluit. Dink net hoeveel werk hy hier sou kon skep as die ANC nie hier was om 'n ongunstige sakeomgewing te skep nie.

In die volgende paar weke sal ons elke week 'n gevallestudie van 'n land wat groot ekonomiese opgang gemaak het, bespreek. Die vraag is gewoonlik nie wát regerings gedoen het nie, maar eerder wat hulle óphou doen het.

Foto bron: Brett SaylesPexels

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close