Algemeen, Politiek -

Hoe lyk moeite vir 'n politikus?

Moeite kan in jou woordeboek óf 'n goeie ding, óf een van jou grootste strawwe wees. Om moeite te doen beteken dikwels dat jy moet werk, en boonop hard ook. As 'n mens die deursnit Suid-Afrikaanse politikus in gedagte hou, is dit egter moeilik om moeite en hulle name in dieselfde sin te plaas.

Dit is belangrik om te onthou dat moeite, afhangend van jou beginsels, nie noodwendig 'n slegte woord is nie. Dit is nie moeite om werk toe te ry, jouself te verbeter of aan jou toekoms te bou nie. Stel jouself voor iemand moet jou kar namens jou werk toe bestuur, of mense namens jou met die wêreld skakel, of dat dokumente net magies voor jou vir ondertekening verskyn? Wat kan dan nou moeite in daardie wêreld wees?

Soos die uwe president ons in die afgelope week ingelig het: “[D]aar is baie werk om te doen in skole…” en “[…] ons moet in jong mense die waardes van werk vaslê […]”. Watter waardes sal dit dan nou wees?

As ons kyk na die stand van sake in die regering, is dit alles behalwe bitter baie moeite. Dit is net moeite om effektief met die persone aan wie jy verantwoordbaar is te kommunikeer. Dit is verder ook net moeite om voor te berei vir vergaderings en boonop moet dit seker moeite wees om jouself só belangrik te ag dat jy in die parlement kan slaap? Maar dit is sekerlik net spekulasie.

Wat nie spekulasie is nie, is dat die einste minister wat in ons parlement sit-slaap, Maite Nkoana-Mashabane, aan die stuur van vrouens, jeug en persone met gestremdhede is. Nog 'n minister wat dieselfde doen? Nathi Mtethwa – hy moes daai vlag-idee iewers opgedroom het. En ek kan nie aan 'n ander verduideliking vir hierdie kamma narkolepsie dink as hulle wat só verskriklik hard moet werk nie.

Gevolglik kan ons wel sien wat moeisaam vir ons land se voorste leiers is. Dit is byvoorbeeld om wakker te bly in die parlement, stadsaal, of waarokal hulle tans aan ons land se demokrasie afbreek maak. Of is dit eerder bou? Ek weet nooit meer na watter een om te verwys nadat die parlementsgebou afgebrand het nie.

Sien, die wesenlike worsteling waarmee 'n mens op die ou einde van die dag sit is, moet ons respek hê vir hulle? Dit moet baie moeite wees om jou bestaan as 'n politieke figuur in Suid-Afrika te maak. Ek bedoel, hierdie mense word immers daagliks deur 'n oneindige aantal probleme in die gesig gestaar. Moet ons miskien eerder respek hê vir hoe baie moeite hulle doen om seker te maak dat hierdie probleme nooit opgelos word nie? Dit klink na baie moeite om nooit enige iets gedoen te kry nie veral as 'n mens weet dat daar miljoene mense daarbuite is wat in absolute armoede leef.

Die punt is – wat is moeite nou eintlik? Is dit moeite om hard te werk, of is dit moeite om harde werk te vermy. Want as dit die tweede een is haal ek my hoed af vir ons regering. Ek haal my hoed af en bieg voor hulle dat hulle weliswaar die meeste moeite van ons almal doen. Meer moeite as ek, en meer moeite as jy.

Die kwessie in Suid-Afrika lê dieper. Vir sommige mense is dit moeite om 'n e-pos te stuur, wetgewing dop te hou, of selfs basiese dienste te verskaf wat regverdiging aan ons voorgeskrewe menseregte gee. Vir ander is dit moeite om toe te kyk hoe die niksseggende trogvreters (moontlik een van my nuutste gunstelingwoorde) daagliks oor die agteruitgang van algemene welstand ’n oog hou.

Sonder om doekies om te draai, is dit sekerlik hoe 'n mens red wat te redde is. Deur saam besluite te neem wat nie net baie werk verg nie, maar ook jou en diegene rondom jou se welstand as belangrik ag. Deur moeite te doen, nie soos ons regering nie, maar op die tradisionele manier; om jou kop te sak terwyl jy met jou gereedskap in die hand aan iets werk wat jou lewe en die lewens van almal rondom jou makliker sal maak.

  •  
  •  
  •  
Deur Franco van der Berg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close