Algemeen -

Hoe om doelgerig te lewe en die meeste uit jou dag te kry

Deur Brigitte Raath

“Hoe doen jy dit?” is 'n vraag wat ek meer as gereeld hoor.

Een (w)eggenoot, twee seuns, een tienerdogter(!), twee honde, katte, visse en budjies, een skilpad, 'n 8 tot 5-werk, vier “base”, 'n oefenroetine, huishouding, vriende, familie, stokperdjies, take, huiswerk en verskeie buitemuurse aktiwiteite, insluitend my eie waarin ek myself onlangs begewe het.

Sommige dae verloop alles reg. Ek word wakker voor my wekker om 05:00 afgaan. My oggenddraffie voel soos 'n walk in the park. My koffie is sterk en lekker. Die kinders, honde en my hare werk saam. Die verkeer is my genadig en wanneer ek stelling voor my rekenaar inneem, voel dit asof ek die wêreld kan oorwin.

Sommige dae verloop nie so goed nie.

Die gemiddelde persoon kry 25 915 dae in die bank van sy of haar lewe. Daar is geen groter cliché as om vir mense te vertel om die beste van elke dag te maak nie. Dikwels neem ons die cliché nie ernstig op nie. Ons verkeer onder die illusie dat ons onsterflik is en dat môre maar net nog 'n dag is. Soos ons vir môre wag, vergeet ons dat ons bank van 25 915 dae besig is om leeg te loop. Soos wat ons ouer word, wil ons vinnig begin deur die meeste uit die oorblywende dae in ons bank te put.

Ongelukkig het ek die meeste dae van my jongmenslewe doelloos omhels. Ek het elke nuwe dag net oorleef en geen moeite gedoen om die meeste van daardie dag te maak nie. My dae het eenvoudig gekom en gegaan … te veel is vermors.

Daar is in elke persoon se lewe 'n Damaskus-oomblik en, in sommige gevalle, meer as een. Ek het my eerste Damaskus-oomblik op 31-jarige ouderdom tydens my bekering beleef. My tweede een was die oomblik toe ek my siening rondom 'n doelgerigte lewe verander het. Ek het begin deur elke dag as 'n spesiale geskenk te beskou, deur elke dag te omhels en die potensiaal wat dit inhou, te ontdek.

Hoe pas mens dit prakties toe? Daar is soveel psigologiese en fisiologiese redes dat jy jou liggaam (en die res van jou dag en gesin!) 'n guns bewys as jy doelgerig leef en as jy jou dag reg begin en reg eindig. Jou liggaam se natuurlike 24-uur-siklus word deur jou omgewing, slaap, energievlakke, metabolisme en talle ander faktore gereguleer. Dit is medies bewys dat die keuses wat jy daagliks maak dié siklus onder beheer hou. Sommige dae mag wel meer as ander inhou, maar gebruik elke een wys want die dag is deur genade aan jou gegee.

  1. Beplan vooruit

Vooruitbeplanning is een van dié produktiefste dinge wat jy kan doen om jou dag op die regte voet te begin en dit moet eintlik gebeur voordat jy die vorige aand gaan slaap – beplan vir môre! Dit help om die klein dingetjies wat jou dag kan vertraag onder beheer te hê. Goeie gewoontes wat jou die oggend vinnig by die deur uit kry, stel jou in staat om meer energie in belangrike besluite te belê.

  1. Weerstaan die snooze-knoppie

Om 'n paar minute se ekstra slaap in te kry, voel op daardie oomblik na die beste ding, maar dit doen waarskynlik meer skade as goed. Daardie ekstra tien minute se slaap is van lae gehalte wat nie genoeg is om jou liggaam weer deur 'n goeie slaapsiklus, wat ongeveer 90 minute duur, te neem nie.

  1. Oefen

Dit klink vir sommige na 'n vreesaanjaende gedagte maar gereelde oefening help om stres te verminder, meer energie te hê, gewig te verloor en te handhaaf, jou humeur te beteuel en dit hou soveel ander voordele in. Deur te oefen skei jou liggaam endorfien af, die goedvoel-hormoon wat deur jou brein vervaardig word om pyn en ongemak te verminder en algemene welstand te verbeter.

  1. Drink baie water en eet jouself gesond

Drink dit soos tequila met 'n suurlemoenskyfie of skoon, maar drink jou agt glase (water!) per dag. Dit dra by tot 'n mooi vel, vinniger metabolisme, keer dat jy hoofpyn kry en help met gewigsverlies. Gesonde eetgewoontes behoort 'n no-brainer vir almal te wees. Eet 90% van die tyd vir energie en 10% van die tyd vir plesier. Kos hoef nie jou lewe te beheer nie.

  1. Leef gebalanseerd

Spandeer tyd saam met jou familie en vriende. Eet ontbyt of aandete saam met jou gesin. Bel 'n vriend of vriendin wat jou laat lag. Ruim 'n tydjie in om te ontspan. Jou brein benodig tyd om die kennis en ervaring van jou dag te prosesseer.

  1. Lag of jy betaal word

Basta met die oumense wat altyd gesê het “van lekker lag kom lekker huil”. Behalwe dat dit jou gemoed in ’n kits kan opkikker, kan dit ook jou gesondheid bevorder as jy lekker lag. Ek en my kollegas noem dit ons happy hour.

  1. Vat klein happies

Doeltreffende mense deel hul tyd in blokke van 15 tot 30 minute in. Breek groot take in kleiner happies op sodat jy stuksgewys daardeur kan werk. Dit motiveer jou ook wanneer jy groter uitdagings in kleiner segmente verdeel en kan afmerk soos jy vorder.

  1. Verrig daagliks 'n daad van welwillendheid

Dit is belangrik dat ons vir God en ander mense, en nie net vir onsself nie, moet lewe. Verrig daagliks 'n voel-goed-daad. Wees vriendelik met 'n knorrige kollega. Gee 'n toebroodjie of 'n appel vir die boemelaar by die verkeerslig. Behandel elke persoon met wie jy daagliks in kontak kom asof hulle van onskatbare waarde is en stel opreg in elkeen se menswees belang. Vervang gedagtes van veroordeling met gedagtes van genade.

  1. Lees

Dink weer as jy sê jy het nie tyd vir lees nie. Los die ure wat jy voor die TV dommel of aan sosiale media spandeer. Bill Gates lees elke aand ten minste 'n uur lank as deel van sy slaaptydroetine.

  1. Prioritiseer en maak tyd vir jouself

Net tien minute. Sit pluisies in jou ore, maak die deur toe, veg out op jou bed, geniet 'n warm bad – alleen. Ek belowe jou die wêreld sal nie vergaan nie!

  1. Maak Klaas Vakie jou beste maatjie

Slaap is werklik 'n wondersoete ding. 'n Tekort aan slaap het 'n skrikwekkende uitwerking op my temperament. Ek raak knorrig, prikkelbaar, vergeetagtig en sukkel om te konsentreer. Jou behoefte aan slaap hang van jou ouderdom af. Babas behoort tot sestien uur, tieners tot nege uur en die meeste volwassenes tussen ses en agt uur per nag te slaap. Tieners se slaappatrone is anders: dis normaal vir hulle om saans laat te wil gaan slaap en soggens laat te wil opstaan. Hoewel hierdie antie ligter slaap, het sy steeds net soveel slaap nodig as toe sy 20 was.

  1. Lees jou Bybel, bid elke dag

… want dit gee jou krag!

“Ek probeer maar,” is gewoonlik my standaardantwoord. Die lewe wat ek kies om te leef, word bepaal deur hoe hard ek elke dag probeer. Is elke probeerslag 'n sukses? Nee, want sukses is nie 'n bestemming of 'n voorwerp nie. Dit is 'n proses – 'n reis wat daagliks onderneem moet word. Ons lewens is 'n groot versameling van individuele dae; die een dag wat op die ander volg. Die son kom op en die son sak weer.

Vandag is een van die grootste geskenke wat ooit vir jou gegee is. Gebruik dié dag verstandig en weier om 'n enkele een voortaan te mors. Begin vandag doelgerig leef terwyl jy (genadiglik) nog duisende dae in jou lewensbank oor het.

  • 128
  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close