Politiek, SNI -

Hoe sal daar ooit geregtigheid in hierdie land geskied?

Hoofregter van die Suid-Afrikaanse konstitusionele hof, Mogoeng Mogoeng het laas week Saterdag tydens 'n toespraak aan al die media-elite in Suid-Afrika 'n belaglike fout begaan. Die hoofregter het sy onvermoë om feite van fiksie te onderskei, ten toon gestel toe hy 'n sarkastiese internet “meme” aangehaal het ter illustrasie van hoe die Britte in 1835 blykbaar besluit het om te werk te gaan om Afrika te kolonialiseer. Die “meme” lyk soos volg:

Dit is verbysterend dat enigiemand, wat nog iemand met die mag waaroor Mogoeng beskik, hiervoor sal val. Tog, dit is eintlik uiters kommerwekkend, want die tendens van onkunde eindig nie by die belangrikste regter in die land nie. Daar is reuse vrae oor die bevoegdheid van die nuwe openbare beskermer, Adv. Busisiwe Mkhwebane, wie lyk of sy bykans geen benul het oor die werklike aard van haar magte nie – selfs nadat sy 'n akademikus aangestel het om dit aan haar te verduidelik. Dan nog die omstrede hoof van die vervolgingsgesag, Adv. Shaun Abrahams, oor wie daar 'n donker metaforiese wolk van vermeende korrupsie met betrekking tot voormalige President Jacob Zuma hang dat dié metafoor al amper 'n tasbare vergestalting ingeneem het.

Die konstitusionele hof, die openbare beskermer en die Nasionale Vervolgingsgesag al hierdie instellings se leiers skiet óf moreel óf intellektueel tekort, en almal van hulle is in presies dieselfde ideologie as die regerende party gesetel. Hoe kan geregtigheid geskied wanneer al hierdie instellings, wat veronderstel is om die publiek te beskerm en geregtigheid te bevorder, óf in gedrang is óf reeds alle geloofwaardigheid verloor het? My vermoede is dat dit nie kan nie. Ons samelewing is post-geregtigheid. Ons leiers was so behep met die bevordering van maatskaplike geregtigheid (“social justice”) dat enige teken van werklike geregtigheid reeds verlore is – ten minste met betrekking tot die staat.

Die staat is waarskynlik reeds onherroeplik verlore aan hul ideologie en meeste Suid-Afrikaners het ingekoop op die leë beloftes van Sosialisme, die verdelende wraaksug van Marxisme, en die naïewe utopie van Kommunisme.

Wat behoort gedoen te word? Gun Suid-Afrikaners die geleentheid om te lewe in die bestel van hul keuse, bied hul die ruimte om self te kies hoe hulle regeer wil word en skep dan ook vir onsself ruimtes waarin ons die moontlikheid het om oor onsself te beskik.

Mens gaan nooit almal oortuig om soos jy te dink nie, maar dit is immers die wonderlike van vryheid. Jy kan nie vir ander sê hoe om te lewe of watter instellings om te volg nie, so ook kan hulle nie aan jóú dikteer nie.

My verstaan van geregtigheid is geheel en al onversoenbaar met die van die staat, die leiers van hierdie instellings en waarskynlik ook met die van meeste Suid-Afrikaners. Geeneen van ons twee gaan die ander oortuig nie, so dis belangrik dat elkeen darem net die vrymoedigheid het om self te besluit oor hierdie sake sover as wat dit hul betrokke gemeenskap raak, maar nie noodwendig buite daardie grense nie.

  • 101
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close