Algemeen -

Hoe weet jy wanneer 'n politikus jok?

Hoe weet jy wanneer 'n politikus jok? Sy mond gaan oop en toe. Maar ons president se onlangse toespraak op Menseregtedag voer jok na ongekende vlakke. Om te kan sê dat sy regering baie doen om ongelykheid teen te werk, moes ons president letterlik alle beskikbare data oor ongelykheid ignoreer. Ongelykheid het sedert 1994 veel erger geword. Hoe 'n mens dit ook al meet, ongelykheid is die ergste tot nog toe, en ongelykheid in Suid-Afrika is die ergste in die wêreld.

Ramaphosa se gekke aanspraak dat hierdie ongelykheid iets met rassisme te doen het, is nog belagliker, na gelang van hoe hy rassisme definieer, natuurlik. As ons rassisme definieer as 'n stelsel wat sekere mense doelbewus uitsluit en ander bevoordeel, is die bewyse daarvan duidelik in die Zondo-verslag wat kaderontplooiing as een van die groot probleme en oorsake van staatskaping uitwys.

Volgens Statistieke SA se 2019-verslag oor ongelykheid is die swart bevolking die mees ongelyke bevolking in Suid-Afrika. Die rykste 10% van swart mense besit amper die helfte van swart welvaart, terwyl die armste 10% van swart mense amper niks besit nie. In Maandag se Business Day gaan Ebrahim Harvey so ver as om te sê dat die regering se beleid van swart bemagtiging en kaderontplooiing die direkte oorsaak van ongelykheid is omdat dit die weg baan vir grootskaalse diefstal deur die bevoordeeldes van die beleid.

Hoe dit werk, is eintlik heel eenvoudig. Selfs waar die geld nie blatant gesteel word nie, trek swart mense, met die uitsondering van diegene met ANC-konneksies, aan die kortste ent. Hier is 'n voorbeeld:

'n Staatskollege moet nuwe rekenaars aankoop, maar die kollege mag dit net by 'n SEB-maatskappy koop. Die enigste onderneming in die streek is in wit besit en die sake-eienaar kan die rekenaars teen R10 000 stuk verkoop. Die kollege se hoof het 'n vriend wat saam met hom 'n grootkop in die ANC is. Hy kontak die vriend om as tussenganger op te tree, want sy onderneming voldoen aan al die vereistes. Die vriend onderneem om die rekenaars teen R20 000 stuk aan die kollege te verskaf. Dan koop hy dit aan by die wit handelaar, maak 100% wins en lewer dit aan die kollege. Die handelaar wat reeds 'n suksesvolle onderneming het wen, maar die grootste wenner is die tussenganger met die ANC-konneksies. Die groot verloorder hier is die studente wat hoër klasgeld sal moet betaal. Die ergste is dat alles in hierdie voorbeeld wettig is.

Dit gebeur ongelukkig met alles, van potlode tot paaie. Omdat daar 'n infrastruktuuragterstand in die swart gebiede is, word ongelykheid deur hierdie swak dienslewering aangeblaas. Die hele land gaan daaronder gebuk, maar in die meeste van die gevestigde stedelike gebiede bestaan daar reeds goeie infrastruktuur. In die nuwe, meestal swart gebiede op die rand van stede, maar ook op die platteland, word dienste nie gelewer nie. Waar dit wel gelewer word, is dit van swak gehalte, want tussengangers kry dikwels meer geld as diegene wat die eintlike dienste lewer. Só word die gaping tussen die rykes, wat in stede en woonbuurte bly, en die armes al groter. Dit is dikwels 'n letterlike gaping, want daar is nie voldoende paaie en spoorverbindings vir die armes om by die stede uit te kom om werk te soek nie. Die ekonomie is ook toenemend aanlyn, maar in baie van hierdie gebiede is internet nie beskikbaar nie. Ander basiese infrastruktuur speel ook 'n rol. Sal jy byvoorbeeld iemand aanstel as jy kan sien en ruik dat hy deur riool moes loop om by jou vir werk te kom aanklop?

Dalk is Cyril dus reg. Rassisme is die oorsaak van ongelykheid in Suid-Afrika. Maar dit is rassisme wat deur sý regering gepleeg word. En so word die kwesbaarstes vir ewig verwaarloos. Dit is in sy aanspraak dat sy regering baie doen om ongelykheid op te los waar hy vir ons jok. Die syfers bewys die teendeel. En die syfers jok nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close