Algemeen -

Hoekom is sakelui so sag?

Ek staan daagliks verstom oor die wette wat op die land se groot besighede afgedwing word. Regeringsvergrype is niks nuuts nie, maar wat my verstom is dat dit altyd, sonder dat vrae gestel word, aanvaar word. Sodra die goewerment jou kernbesigheid bedreig, behoort jy tog woedend te wees. As hulle daarop aandring dat jy 'n deel van jou besigheid aan mense uit “aangewese groepe” verkoop voor jy kan sake doen, moet dit jou so kwaad maak dat jy dit met hand en tand beveg. Maar dit gebeur net nie so nie.

MTN het byvoorbeeld verlede week, na 'n lang gesukkel, toestemming gekry om hul torings aan IHS Towers te verkoop. Sonder enige rede voel die staat dat hy alle groot transaksies moet polisieer. En in hierdie geval het die Mededingingskommissie, wat in landsbelang eintlik moet ontbind, soos gewoonlik 'n string vereistes gestel wat niks met mededinging te doen het nie. Van die voorwaardes is dat MTN vir 24 maande geen personeel mag aflê nie. Met die eerste oogopslag klink dit goed, maar dit kom daarop neer dat indien hulle die besigheid beter wil belyn, dalk deur personeel na IHS te skuif of deur sommiges af te lê omdat hulle nie meer nodig is nie, dit nie gedoen mag word nie. 'n Beter besluit deur die Mededingingskommissie sou wees om tyd te gun om personeel wat nie na IHS geskuif kan word nie, op te lei om 'n  ander rol te vervul. So word niemand afgelê nie, maar dit sou ook nie nodig wees om personeel sonder rede in diens te hou nie.

Die ander voorwaardes bepaal dat IHS binne 18 maande vlak 4 B-BBEE-status moet kry en binne 24 maande 20% in B-BBEE-besit moet wees. Na vier jaar moet dit 'n vlak 1 BBBEE-maatskappy wees. Waarop dit neerkom, is dat die maatskappy welkom is om hier sake te doen, solank die huidige eienaars nie die eienaars bly nie. “Koop die torings, maar verkoop jou aandeel voor jy 'n wins begin maak,” sê die Mededingingskommissie eintlik.

Dit maak dit amper onmoontlik om te dink dat enige iemand, selfs mense wat aan huidige regeringstandaarde voldoen, hier sal wil sake doen. Duidelik het die mense goeie rede en sien hulle groot geleenthede hier, want 'n mens moet regtig vasberade wees om ten spyte van sulke vergrype deur die Mededingingskommissie steeds met 'n transaksie voort te gaan.

Dink net hoe goed dit kán gaan as sakelui eerder net nee sê, doen wat hulle wil, en hul besighede met vryheid bedryf. Tot sakelui hul vryheid opeis, sal die regering dit nie vir hulle gee nie.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close