Algemeen, Politiek -

Hoekom maak 'n 19-jarige se politiek saak?

“Rasseverraaier!” is een van die minder ernstige beledigings wat Jesse Griesel, EFF-lid van die Universiteit van Kaapstad, die afgelope tyd moes verduur – dalk ook tereg, maar hoekom gee ons om? Erger nog, hoekom val ons die verwarde meisie aan?

Deesdae sien ons dit nogal baie, veral by die ou Engelse universiteite. Mense glo dat die staat almal moet kom red. Hulle sien soveel neer op die armes dat hulle geen manier vir die armes kan sien om hulself te red nie. Grond is die oplossing, so sê hulle, terwyl die Zoeloe-koning, die grootste grondeienaar in die land, van 'n regeringstoelaag vir sy oorlewing afhanklik is. Geen wonder dat arme Jesse so deurmekaar is dat sy by die EFF aangesluit het nie. Sy probeer help, maar afgesien van 'n handjievol vryemarkrealiste weet niemand meer hoe nie.

Want moenie 'n fout maak nie. Die arme kind is deurmekaar. Soos die res van ons sien sy die probleme in die samelewing raak, en anders as die meeste van ons probeer sy om iets daaraan te doen. Lofwaardig, buiten dat haar “oplossing,” EFF-lidmaatskap, die probleem oneindig sal vererger.

Ook dit is niks nuuts nie. Die vader van rewolusionêre denke, Karl Marx, het in die 1800’s soortgelyke probleme opgemerk. Kortom, die rykes word ryker en die armes bly arm. Dit is 'n probleem wat sedertdien, veral in Suid-Afrika en die VSA, 'n rassegeurtjie bygekry het. Die wittes word ryker en die swartes bly arm.

Marx, en veral die EFF, se diagnose is glad nie juis nie. Baie armes word op die ou end middelklasmense en word selfs ryk, maar daar is ook genoeg wat oor geslagte vasgevang bly in armoede en nooit daaruit ontsnap nie – vandaar die besorgdheid van mense soos Jesse Griesel. Die gesegde lui mos as jy nie in jou jeug 'n sosialis is nie, het jy nie 'n hart nie, maar as jy in jou volwassenheid steeds 'n sosialis is, het jy nie 'n brein nie.

Daarom is ek, tensy mense die arme kind heeltemal van haar eie mense vervreem, bereid om groot geld daarop te verwed dat sy oor tien jaar nie meer 'n lid van die EFF sal wees nie en hopelik van mense, wit en swart, sal verwag om hulself te red. Die wit ridder wat die “ander” mense kom red, is tog so koloniaal en verouderd. Om van meerderwaardig nie eers te praat nie. Dié dat Biko sy mense teen die wit liberale gewaarsku het.

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close