Algemeen -

Hoekom moet ek lees?

Benjamin Franklin se antwoord op die vraag: Watter soort mens behoort die meeste bejammer te word, was kort en kragtig. “Mense wat op reënerige dae nie van lees hou nie”. Niemand hou van lees nie, veral nie op reënerige dae nie, want reënerige dae is gemaak om pannekoek te bak en dit te eet. Wel, dit is my mening. Maar die belang van lees en die konstantheid van verandering is egter nou die primêre rede vir 'n leeslys. Alles in ons wêreld se funksionering verander konstant. Verandering is nie ons grootste vyand in die tyd waarin ons leef nie, maar die rede waarom alles so verander.

Die vierde industriële rewolusie (4IR), oftewel die kennisrewolusie, is een van die hoofredes waarom lees vandag belangrik is. Ons perspektief oor hoe ons na iets kyk word bepaal deur die blootstelling wat ons aan die spesifieke onderwerp of sektor gehad het. Die gemiddelde persoon se blootstelling is gewoonlik hulle studies of die omgewing waarbinne hulle werk. Die verandering wat in hierdie gebied plaasvind word in boeke, artikels en tydskrifte deur meesters in die betrokke onderwerp of sektor neergepen. Hierdie skrywers is mense wat hulle lewens daaraan toewy om seker te maak 'n onderwerp en sektor bly aan die voorpunt van verandering. Hierdie verandering is nie net op tegnologie gefokus nie, maar fokus ook op aspekte wat op die mens self van toepassing is. Om aan te hou lees help jou om jou bestaande kennis te verbreed. Die heel belangrikste is egter nie net om te lees nie, maar om die boek wat jy lees, klaar te lees. Indien jy dit wel doen, maak jy deel uit van die minder as 1% van mense wat dit wel regkry. Baie mense begin 'n boek lees, maar maak dit nooit klaar nie, en dít, die klaarmaak van 'n boek, is wat tot jou voordeel gaan strek.

Wanneer jy lees word jou nuuskierigheid geprikkel. Om boeke te lees wat jou nuuskierigheid voed beteken jy gaan die vermoë ontwikkel om beter vrae te stel, en jou kennis gaan van so aard wees dat jy krities na aspekte binne jou sektor kan kyk. Die impak van jou verskil gaan bepaal word deur die mate van kennis waaroor jy beskik – kennis wat jy slegs kan opdoen deur meer as een boek te lees.

FOTO BRON: Siora Photography on Unsplash

  •  
  •  
  •  
Deur Higgs


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close