Algemeen -

Hoekom plaasmoorde ons so kwaad maak

Hoekom raak Afrikaners so kwaad oor plaasmoorde?

 

Dit mag dalk na ʼn selfbeantwoordende vraag klink, maar dis een wat tog ʼn bietjie ontleding en bepeinsing verg. En dis meer verwikkeld as wat dit op sigwaarde voorkom. Ek wil ook nie voorgee om die finale en enigste antwoorde daarop verskaf nie en ek kan dit sekerlik ook anders as ander mense sien, maar dit is ʼn vraagstuk wat ek meen buitengewoon belangwekkend is en waarop ek as ontleder ook antwoorde soek.

 

Soos met alles is konteks baie belangrik. Elke keer as daar ʼn wrede plaasmoord is, of ʼn vlaag plaasmoorde in ʼn kort tydsbestek plaasvind, is Afrikaners ontsettend woedend daaroor. ʼn Mens sien dit op die sosiale media en in die kommentaarafdelings van nuuswebwerwe. Dis ʼn uiters geregverdigde woede teen iets wat nooit aanvaarbaar kan wees nie. Hierdie woede is nie altyd mooi of beskaafd nie, maar die feit is dat dit wel tot uiting kom en daarom moet en kan dit ook verklaar word – al is dit net deels.

 

Hoe dit ook al sy, plaasmoorde maak Afrikaners siedend en met goeie rede ook. Ons is ook kwaad as mense in die stede aangeval en vermoor word, of as diere mishandel en wreed doodgemaak word en regeringsamptenare groot bedrae belastinggeld steel en verkwis, maar daar is klaarblyklik ʼn hele paar grade verskil in die woede wat plaasmoorde ontketen. Hoekom is dit so?

 

Eerstens is ek van mening dat dit so is omdat feitlik alle Afrikaners ʼn band met die grond, die platteland en plase het. Al is ons vandag grootliks ʼn verstedelikte gemeenskap, het ons ʼn historiese liefde vir en verwantskap met die platteland en plase. Die meeste van ons het iewers ʼn oom, pa, neef, niggie, ma, ouma, oupa of tannie wat iewers boer of op ʼn plaas woon of gewoon het, of ons het kleintydherinneringe van kuier op die plaas.

 

Ek vermoed dit kom nog van die Groot Trek se dae af. Die Voortrekkers het van die veld gelewe en het later wortelgeskiet, plase gevestig en gewasse verbou. Daar is dikwels vir plase en grond gely en gebloei. Dit is met moeite bekom.

 

Eers nadat die plase ingevolge die Britte se verskroeideaardebeleid tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog deurgeloop het, was arm Afrikaners genoodsaak om in groot getalle in die stede te gaan werk soek. Maar daardie nostalgie en romantisering van ʼn plattelandse bestaan, asook die verknogtheid aan ʼn plaas, is iets wat baie Afrikaners vandag steeds met groot hartstog koester.

 

En dit neem skynbaar toe. Danelle van Zyl-Hermann skryf byvoorbeeld in 2008 in ʼn artikel in die South Africa Journal of Cultural History:

 

Sedert die demokratisering van Suid-Afrika blyk ʼn gevoel van sentimentele smagting na die platteland toenemend onder Afrikaners voor te kom. Hierdie versugtinge stel die plattelandse lewe as heilsaam, eenvoudig en deugsaam voor, en dit blyk dat Afrikaners smag na die waardes en sekuriteit wat hulle met dié beeld van die platteland assosieer . . . Hierdie ontwikkelinge word beskou in terme van nostalgie as ʼn spesifieke vorm van herinnering en word gevolglik in verband gebring met Afrikaners se kollektiewe mentaliteit.

 

Sy bring dit ook in verband met C.F. Visser se bekende gedig “O, Boereplaas”, waarvan die eerste strofe soos volg lui:

 

O boereplaas, geboortegrond!

Jou het ek lief bo alles.

Al dwaal ek heel die wêreld rond,

waar so gelukkig, so gesond?

O boereplaas, geboortegrond!

Jou het ek lief bo alles.

 

Hierin lê nog ʼn moontlike rede vir Afrikaners se woede oor plaasmoorde. Hierdie woorde is deur Visser aan die begin van die 20ste eeu geskryf toe Afrikaners polities, ekonomies en militêr verslaan en teen die planke was. Dit resoneer egter vandag net so sterk in Afrikaners se psige aangesien daardie historiese pyn en ongeregtighede teen ʼn volk en hul plase in hedendaagse tye sterk weerklank vind. Destyds was dit die Britte gewees, vandag is dit die EFF, die ANC en hul meelopers wat ons vertel hoe plase gesteel is en bloot teruggegee moet word. Wrede plaasmoorde word afgelag en as beuselagtig bestempel. Die polisie kan (en wil dikwels) niks daaromtrent doen nie. Afrikaners voel ook tot ʼn groot mate magteloos om dit stop te sit en die voor die hand liggende reaksie is dan woede.

 

Die oorgrote meerderheid van die hoofstroommedia gee daarbenewens geen aandag aan plaasmoorde en -aanvalle nie en ruk ook enkele gevalle van boere wat hul werkers sleg behandel, heeltemal uit verband. Die EFF maak ook asof elke boer met sy lewe moet boet omdat enkeles hul werkers mishandel. Sulke skreiende dubbelstandaarde en blatante rassisme is genoeg om jou bloed te laat kook.

 

Voorts dink ek die wreedheid en onnodigheid van plaasmoorde is wat Afrikaners so kwaad maak. Om iemand vir ure op die wreedste maniere denkbaar te martel omdat jy net iets wil steel, strook nie met die teorie dat plaasaanvalle bloot oor diefstal gaan nie. En hoekom sal jy die gans wat die goue eiers lê, wil slag as jy oor ʼn ruk net weer by hulle kan gaan steel? Diefstal is dalk ʼn motief vir plaasaanvalle en -moorde (selfs die primêre rede), maar die geweld en bloedvergieting wat daarmee gepaardgaan, wys dis nie net blote diefstal nie. Dit is bedoel om te intimideer en om haat jeens spesifieke mense te wys. Woede is dan die gevolglike teenreaksie.

 

Laastens is die onregverdigheid van plaasaanvalle en -moorde ʼn soort simbool vir wat met Afrikaners as ʼn groep in Suid-Afrika gebeur. Deesdae daag 13 mans met militêre vernuf en wapens by ʼn plaas op om ʼn bejaarde egpaar of ʼn gesin aan te val. Afrikaners voel desgelyks geboelie deur ʼn staat en party wat disproporsionele mag teen ʼn minderheid inspan. Daar is dus ʼn kollektiewe woede-uitbarsting wanneer boere en hul gesinne teen ʼn oormag te staan kom en verloor. Dit vertel ook weer die storie van die Anglo-Boereoorloë, die Groot Trek en trouens die Afrikaner se hele geskiedenis as ʼn klein volkie wat teen enorme uitdagings en ʼn oormag vyande te staan gekom het en moes stand hou. Die verlede word dus in die hede herhaal en waarskynlik ook in die toekoms.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close