Algemeen -

#Hoelykjoutydlyn?

Deur Brigitte Raath

 

“Wat is dit wat jou so vreeslik irriteer?” My man gooi desperaat sy arms in die lug en rol sy oë. “Ag man, niks… weet jy alles… ag lossit, dis niks,” retaliate ek onmiddellik en loop wipgatjie die gang af en gaan tap 'n lekker warm skuimbad. Ek sink diep in die bad en vat sommer 'n groot sluk wyn. Wat is dit wat so in my binneste krap-krap, my soos 'n ou tannie met 'n nat bra laat grom en brom; katterig, krapperig?

Maar, nodeloos om te sê, nie eers die warm bad of die glas wyn kan die ongedurigheid tot bedaring bring nie. Ek neem my selfoon en begin deur Facebook blaai.

Eendag, nie so lank gelede nie, het sosiale media soveel belofte ingehou. Hoe lekker was dit nie om bande met ou kennisse op te tel, resepte uit te ruil en met enersdenkendes wat dieselfde esoteriese stokperdjies beoefen, te verbind nie!

Dit het egter vinnig in iets anders ontaard. Ou kennisse het vreemde fetisje ontwikkel, was hul vuil wasgoed in die openbaar en kan nie spel nie. Dan praat ek nie eens van dié wat hul kinders op goue voetstukkies plaas en die arme spermskenker wat die helfte van die DNS bygedra het en boonop die huishouding onderhou, nêrens laat feature nie. Mense het ipekonders en jy lees grotendeels van moord, plundery, grondgrype en verkragtings. Die wannabe politici, selfie-geabsorbeerdes, kragpaartjies, fopnuusverspreiders, sportbloggers, sleutelbordkrygers en die kriptiesestatus-opdateerders se inskrywings spoel onder my vingers deur en my irritasievlak styg met nog drie grade.

Ek rol my oë en skakel oor na my Instagram-profiel. Dalk moet ek die “Arabiese prins” se huweliksaansoek aanvaar, my intrek in sy harem tussen die kamele neem en my in die woestyn gaan afsonder. Ek vee dié lawwe boodskap in my inboks uit en blaai deur die nuutste nuusberigte, koes vir al die fake tans en tieties en toe tref dit my:

Ek is moeg. Moeg vir vals vriendskappe, glimlaggies, opmerkings en mense. Moeg vir vals vrede. Moeg vir vals beloftes en vals hoop. Moeg vir die vals euforie dat groter, mooier en duurder beter is. Moeg vir al die simpel hashtags.

Die samelewing het só vals geword dat egtheid mense ontstel.

Dit laat my dink aan 'n opmerking van 'n kollega ná een van haar sosialemedia-huisskoonmaaksessies: “Skiesie, maar as jy nog nie by my huis was óf my kinders se name ken nie, gooi ek jou af.” Ek maak my vriendelys oop, meet elkeen aan dié maatstaf en met elke druk van die ontvolg-knoppie lig my gemoed en ek besluit sommer dat dit nou 'n goeie tyd vir 'n digitale detoks is.

Dit is twee weke later en my sosialemedia-kolon is mooi skoon en die “prikkelbare-dermsindroom” is onder beheer. Ek is terug op die lug.

Hoe lyk jou digitale bloudruk? Daardie stukkie van jou identiteit wat jy aan die magtige kuberwêreld openbaar en waarvoor almal jou sal onthou? Betroubaar, eerlik, behulpsaam, geduldig, blymoedig, vrygewig, nederig, gierig, losbandig, hoogmoedig, trots, onbetroubaar, aanmatigend, selfsugtig of ontevrede? Wat sal die storie van jou tydlyn eendag van jou vertel?

#digitalenalatenskap

#herbesin

#ekbesluit

Ek wil inspireer. Ek wil bemoedig. Ek wil bemagtig. Ek wil hoop skep. Ek wil waarde toevoeg. Eendag moet iemand na my kyk en sê: Danksy jou het ek nie opgegee nie.

  • 41
  •  
  •  
  •  
Cilleste van Dyk Deur Cilleste van Dyk


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close