Algemeen -

Hoeveel kom die keiser nou eintlik toe?

Van kleins af lees ons in die Bybel dat ons die keiser moet gee wat hom toekom. Met my eerste salaris, oftewel my eerste salaris as belastingpligtige, het ek geskrik om te sien dat ek eintlik ’n bietjie minder uitkry as met my veel kleiner salaris voordat ek tot belastingpligtige bevorder is. ’n Kykie na die PAYE-kolom op my salarisstrokie het gewys hoekom. Maar gee die keiser wat hom toekom, so is ek geleer. Dit was darem lank gelede, maar sedertdien het my belastinglas net nog groter geword. My salaris darem ook.

Maar wat kom die keiser toe? En hoekom kom al die wêreld se keisers nie dieselfde toe nie? Hoekom staan die gemiddelde Suid-Afrikaanse belastingbetaler omtrent 30% van sy swaarverdiende salaris aan die staat af, maar die gemiddelde burger van die VSA staan net omtrent 10% af. In beide gevalle is daar baie mense wat veel meer betaal, maar vir die gemiddelde mens is 30% ongelooflik baie geld.

Dis dalk ’n oorvereenvoudiging om so daarna te kyk, maar die staat maak vir seker nie my werk 30% makliker nie. Inteendeel. Heel dikwels vat dit my veel langer as nodig om by die werk uit te kom omdat die verkeersligte as gevolg van beurtkrag af is. Of iemand se kar se band het gebars toe hy ’n slaggat tref en dié kar sorg nou vir ’n getoet, ’n gekerm en ’n algehele gemors. Ander kere is kragkabels gesteel, met soortgelyke resultate. Die staat misluk in sy belangrikste rol – om wet en orde te handhaaf, maar tog moet ons drie keer meer as sommige ontwikkelde lande se burgers opdok.

En betaal moet ons. Nie omdat die keiser dit toekom nie, maar omdat hy daarop aandring. Hierdie keiser kom lankal nie meer iets toe nie. Vir wat moet ons betaal sodat die minister van gesondheid sy vriende miljoene kan betaal om Zoom-vergaderings op te stel? Of toekyk hoe beamptes wat ons tydens die pandemie veilig moes hou, die geld wat daarvoor bestem was, steel?

’n Mens kan nie stry dat geen staat, of owerheid sonder belasting kan voortbestaan nie, maar daar kom darem ook ’n punt waar ’n mens moet halt roep. Iewers moet elke burger sê genoeg is genoeg en die staat eis meer as wat hom toekom. Ongelukkig is ons lankal verby daardie punt – niemand het al iets gesê nie en nou weet niemand meer hoe nie. Dit herinner so amper na die voorbeeld waar jy na ’n jaar nog nie ’n kollega se naam ken nie en jy voel die tyd is verby om te vra. Darem kos dit jou nie ’n klomp geld nie …

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close