Algemeen -

Hofsaak teen Dept. van Toerisme se rassefonds. Wat sê jy?

Die ANC is histeries omdat Solidariteit en AfriForum dit durf waag om die regering hof toe te vat oor sy rasgebaseerde toerismefonds.

Hoe durf ons dit doen? Rassetransformasie is mos die hoogste reg. Dit troef alle ander wette. Alle ander regte kan tydens die pandemie ingeperk word, maar nie ras nie – o nee, dit is onbeperk.

Suid-Afrika is mos 'n rassestaat waarbinne die Grondwet 'n plekkie (weliswaar ondergeskik) het. As jy hierdie hoogste rasreg uitdaag, is dit bykans gelyk aan verraad.

Die regter se uitspraak in die omstrede saak is voorbehou en dit lyk of die ANC baie bekommerd is dat sy rassefonds dalk volgens die ondergeskikte howe onwettig is.

Hierdie fonds is deel van pres. Ramaphosa se ekonomiese rekonstruksie-en-herstelplan (ERRP) wat in Oktober 2020 aangekondig is.

In sy verklaring erken die ANC dat toerisme een van die sektore is wat die hardste deur Covid-19 getref is. Die doel van hierdie fonds is om dié sektor te laat herleef om werk te skep en groei te stimuleer.

'n Stukkie nadere besonderhede: Wit ondernemings mag nie gehelp word nie. Hulle mag nie herleef, groei of werk skep nie.

Die virus het nie op grond van ras gediskrimineer nie. Almal is swaar getref, maar die fonds diskrimineer op grond van ras.

Die regering gebruik die geleentheid om swart ondernemings uit die as van die sektor te laat herleef. Hy gebruik die swaarkry van wit ondernemings om swart transformasie te bevorder.

Dit is moreel siek. 'n Pandemie tref ons en die regering misbruik die smart van 'n pandemie om sy siek rasse-ideologie te bevorder. Dit is rasse-opportunisme op sy beste.

Dit is 'n nuwe rasselaagtepunt vir die mees rasgereguleerde land ter wêreld.

Die regerende party reik dan 'n histeriese verklaring uit. Die party veroordeel die hofsaak teen hierdie siek rassisme van die regering wat Solidariteit en AfriForum aanhangig gemaak het.

Die regering sluit wit mense uit en dan sê die ANC in die verklaring die hofsaak is 'n oorlogsverklaring teen 'n inklusiewe ekonomie.

Die regering het 'n klipharde rassebenadering en beskuldig ons dan dat ons die raskaart speel.

Die ANC se histeriese verdediging van 'n fonds wat in uiterste nood hulp op grond van ras bied, sê baie meer oor sy rasmoraliteit as dié van Solidariteit en AfriForum.

Die ANC se rasmalheid is tot nadeel van almal in Suid-Afrika.

Ons sal die ANC se rasmalheid beveg – op plaaslike forums, in die howe, by ambassades, ander regerings, die Europese Unie en in die Verenigde Nasies.

Hou die spasie dop.

Julle kan verklarings uitreik tot julle blou word, ons veg voort, want ons glo in wat reg is.

Ons gaan nie ophou nie, en ons beslis nie deur jul histerie van stryk laat bring nie.

  •  
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close