Algemeen, Kultuur -

“I am a donkey, I spoke Dutch”

Deur Dr. Juran van den Heever (Hoof: Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling)

Menán van Heerden skryf die volgende op Litnet:

Tydens die 19de eeu het Britse koloniste onderrig in Afrikaans verbied. Lord Milner het beklemtoon: “Dutch should only be used to teach English, and English to teach everything else.” Jou oumagrootjie, wat skoolgaan in Graaff-Reinet, staan in die klaskamer se verre hoek met ’n bordjie wat om haar nek hang. Dit lui: “I am a donkey, I spoke Dutch.” Sy is betrap dat sy Afrikaans op die skoolterrein gepraat het.”

Dit laat mens ’n knop in jou keel kry. ’n Warm rooi gloed onder jou kraag. Jy raak kwaad, want nie net is dit onregverdig nie, maar ook onmenslik. Dit was egter die realiteit in staatskole in die ou Transvaal en Oranjerivierkolonie en hulle moes die beleid van verengelsing volg.

2021 is ’n jaar wat aangebreek het net nadat ’n pandemie die wêreld insluitend ons land, Suid-Afrika, getref het. ’n Mens sou dink dat mense meer nugter oor sake sou dink, en dinge bietjie meer in perspektief sou sien. Die gedagte dat nie eens ’n pandemie mense kan stuit om voort te ploeter en hulle eie vooropgestelde ideologiese idees na te jaag nie, is genoeg om ’n mens naar en warm onder die kraag te maak.

Die jaar het skaars afgeskop vir ’n klomp opgewonde eerstejaars aan die Universiteit Stellenbosch of die gort is gaar. Dit wil voorkom asof ou tradisies van ontgroening vervang is met ongrondwetlike wanpraktyke oor taalgebruik in koshuise deur oningeligte en onopgeleide studenteleiers; leiers wat ook hulle eie vooropgestelde ideologiese idees het en dit op onskuldige eerstejaars probeer afdwing.

Hierdie eerstejaars, wat veronderstel was om hulle loopbane te begin uitkerf en hard te werk aan ’n toekoms, is deur taalboelies en aktiviste gebombardeer wat veroorsaak dat die nuwe studente vrees vir viktimisering en uitbuiting, en liefs stilbly en net voortgaan met hulle studie (in Engels, omdat dit vir Maties nie redelikerwys uitvoerbaar is om dit in Afrikaans aan te bied nie). En daar bly die eerstejaars stil, die ouers bly stil, en die ergste van alles … Die kampus se bestuur bly stil!

Dit is ’n skreiende skande dat daar kort-kort iets op die lappe oor hierdie wanpraktyke verskyn van ’n studente-organisasie met die naam StudentePlein, maar dat nie eens één volwassene op kampus die integriteit het om hierdie misbruik van mag en toepassing van absolute belaglike idees te stuit of te bevraagteken nie.

Nou vind daar ondersoeke plaas deur die MRK, met alle respek, wat nie eens Malema se haatspraak teen wit mense kan stuit nie. En die US self dui aan dat hulle ’n ondersoek loods, weereens met alle respek, die einste US wat nog geen kommentaar gelewer het nie, veral nie uit die rektor se kantoor nie. Die DA loods ook ’n ondersoek, en weereens met respek gesê, waar was die DA in al die vorige jare se hofgevegte oor moedertaalonderrig?

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar. Dit is nie toevallig nie. Dit is beplan en die plan is verengelsing. Ongelukkig daarmee saam, en die geskiedenis leer dit vir ons, tree vyandigheid na vore teenoor die onderdrukte.

Ons sal nie toelaat dat die volgende generasie Afrikaanse kinders of studente hulle kop in skaamte moet sak en nederig moet toegee vir die vertrapping van hulle taal nie. Ons sal nie toelaat dat die jeug toegee aan die kwansuise Engelse wêreld nie. Ons sal nóg minder toelaat dat hulle gebrandmerk word, uitgekryt word en bordjies om hulle nekke moet dra wat lees: “I am a donkey, I spoke Afrikaans”.

 

Basta, ons sal opstaan!

Trots Afrikaans!

  •  
  •  
  •  
juran Deur juran


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close