Algemeen, Kultuur -

Iemand moet die klokkie om die kat hang.

Ek het grootgeword in 'n tyd voor iPad’s en ander vorme van tabletrekenaars, wat beteken het dat my ouers alternatiewe metodes van na-ete vermaak moes aanwend totdat die moegheid uiteindelik die ooglede swaar genoeg gemaak het dat slaap die enigste uitweg was.  My ouers se gunsteling metode van vermaak was om vir ons stories te lees. Soms was dit Jock van die Bosveld, stories wat ek dekades later nog in die fynste besonderhede onthou, soms was dit die Fabels van Esopus – kort stories met 'n kosbare les aan die einde.  Baie van die besluite wat ek op 'n dag tot dag basis neem is steeds in hierdie fabels en hulle lesse gefundeer. Baie van die lesse het jare later eers werklik tot my deurgedring, soos die hond wat sy eie spieëlbeeld sien en die been in sy eie bek vir die van die ander hond probeer verruil, of die leeu wat glo dat hy in alle ewigheid nooit die hulp van 'n muis sal benodig nie, totdat hy in 'n net beland.

My onlangse navorsing en nadenkings oor die jongmens in die werkplek herinner my elke dag meer en meer aan een van hierdie fabels: Die muisparlement. Nadat nog een van hulle kamerade deur die kat gevang word besluit die muisparlement eenparig dat 'n klokkie om dié vervlakste kat se nek gehang moet word. Heel in hul noppies kom die muisparlement by die volgende punt op die agenda: Wie gaan die klokkie om die kat se nek hang? Doodse stilte, jy hoor, as’t ware, nie 'n muis nie.

Baie jare later, in my Graad 10 Engelseklas het ons To kill a Mockingbird bespreek. Scout Finch, die hoofkarakter, se pa, Atticus, is een van die mees onpopulêre karakters in die dorp, juis omdat hy sekere beginsels het, en hulle nie wil laat vaar nie. Tog, een sonskyndag toe daar 'n hond met hondsdolheid in die pad af stap, word Atticus nader geroep om die doodskoot toe te dien. Al haat die gemeenskap hom hoe, weet die dorpenaars dat hy die een is om na te draai as die kalf in die put is, want hy neem verantwoordelikheid en hy tree daadwerklik op. Hy kan die klokkie om die kat hang.

Wat is die punt van al hierdie stories? Die punt, ten minste vir my, is verantwoordelikheid. Mense wat bereid is om verantwoordelikheid te neem is skaars, veral as die taak nie 'n eenvoudige taak is om uit te voer nie. Dit is maklik om die vuis te bal en op die tafel te slaan en juigend te skree “Ja, hang die klokkie om daai kat!”. Dit is moeiliker om die kat te bekruip, by sy stert op te klim, en die klokkie om sy nek te hang.

Die samelewing maak dit dikwels maklik vir ons as jongmense om verantwoordelikheid te vermy. Ons kan opmerkings op sosiale media maak, dikwels onder skuilname, waarvoor ons geen verantwoordelikheid hoef te dra nie. Ons kan te veel drink en ons uiters sleg gedra, een of ander slim toepassing sal seker maak dat ons by die huis kom. Ons kan misdaad sien, daarvan lees, en ons hoë hekke net met die druk van 'n knoppie toemaak. Ons kan sien ons besighede en ons ekonomie sukkel, en maar net in 'n ander land werk soek. Ons hoef nie verantwoordelikheid te neem nie.

Hoe gaan ons toekoms lyk as ons nooit leer om verantwoordelikheid te neem vir ons optrede, vir ons omgewings, en vir ons land nie? Hiermee bedoel ek nie verantwoordelikheid in die sin van 'n kind se doeke omruil of getrou bly aan jou vrou of man nie. Ek bedoel verantwoordelikheid vir wat om ons aangaan. Ek bedoel 'n skool met 3 000 ouers waarvan 34 opdaag vir die beheerliggaamverkiesing. Ek bedoel duisende studente wat staan en toekyk hoe universiteit na universiteit 'n taal uitskuif. Hoekom moet hulle die klokkie om die kat hang, hulle is mos amper op pad hier uit?

Ons word oortuig om saggies te sit en dankbaar te wees vir die bietjie wat ons kry – die bietjie vryheid, die bietjie veiligheid, die bietjie geleentheid. Hoekom? Ons is jonk, ons is veronderstel om die wêreld aan ons voete te hê? Ons moet dit vat, want dit behoort aan ons! Goed, maar hoe vat 'n mens jou toekoms terug? Miskien maak die sirkelrelaas nou vir jou sin, maar ek glo dat ons ons toekoms slegs terug kan neem deur verantwoordelikheid te neem! Voor ons moes baie jongmense raas en baklei om die toekoms te kry wat hulle verdien het – nou is dit ons beurt.

Wees daardie muis wat sê: “Ek sal die klokkie om die kat hang”. Wees daardie muis wat sê: “Ek gaan nie meer in vrees leef elke keer wat ek my snoet by die gat in die muur uitsteek nie! Ek gaan nie toelaat dat ander mense oor my toekoms besluit en my inlig hoe dit sal werk nie – dit is nie reg nie.”

Wat my betref het jongmense een van twee keuses in die saak: Sit terug, luister na hoe ander mense 'n wêreld skep waarin jy moet leef, en wees dankbaar as 'n krummeltjie na jou kant toe kom, of staan op, en skree totdat jou longe nie meer kan nie, en vat verantwoordelikheid vir jou lewe, jou besluite, en jou toekoms. Gaan hang die klokkie om die kat, vir die ganse “muisdom”!

  •  
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close