Nuus -

In die hof saam met Amy’Leigh se beweerde ontvoerders

In die jaar 2019 – waar sosiale media alles domineer en 'n piepklein stukkie inligting binne sekondes soos 'n veldbrand kan versprei sodat die nuus op byna elke persoon se lippe is – het drie mense (moontlik meer) gedink dit is 'n goeie idee om 'n klein, weerlose dogtertjie voor haar skool uit haar ma se arms te ruk en vir 'n losprys van R2 miljoen te ontvoer.

Dit klink soos 'n draaiboek vir 'n riller – 'n onnosele een as jy my vra. Nuusberigte het die afgelope week woorde gebruik soos “daar is 'n vermoede” dat dit te “warm” vir Amy’Leigh de Jager se ontvoerders geword het. Om dié rede het hulle haar glo Dinsdagoggend in 'n bedenklike buurt in Vanderbijlpark afgelaai waar twee goeie Samaritane hulle oor haar ontferm het en haar na die polisiekantoor geneem het waar haar ouers in angs gesit en wag het.

“Sy is veilig!” het byna elke twiet die volgende dag op my tydlyn gesê. Van gewone lede van die publiek tot bekendes het hul verligting die digitale ruim ingestuur. Mense en ouers kon weer asemhaal want Amy’Leigh was veilig in haar mamma se arms. Goeie dinge gebeur nog.

Donderdag kom die nuus deur dat drie verdagtes aangekeer is. Nog inligting – een van die verdagtes is 'n juffrou by Amy’Leigh se skool. Daar is ons almal opnuut ontsteld. Ons laai elke oggend ons kinders by die skool af en nie eers dáár is hulle veilig nie. Mense is weer in paniek.

Vandag sit ek hier op die vloer voor Hof B in die Vanderbijlparkse landdroshof. Daar stap hulle in – die juffrou en twee ander. Die drie verdagtes, Tharina Human, Laetitia Nel en Pieter van Zyl, het hul eerste hofverskyning gemaak. Hulle lyk weerloos en skaam. Hulle maak min kontak met mense in die galery, behalwe Tharina wat haar pa, Riaan Botha, 'n drukkie gee voordat sy in die beskuldigdebank inskuif. Die hof is stampvol familie, vriende en kennisse wat die hofbankies vol sit. Niemand maak oogkontak met die media nie.

Amy’Leigh se pa en ma, Wynand en Angeline de Jager, is ook in die hof. By hul aankoms moes hulle wag om by die hof in te kom. In 'n gesprek met 'n hofordonnans wat hulle meedeel dat die saak eers later die oggend begin, vra hulle: “Maar wat van die media en die foto’s wat hulle van ons neem?” Hulle vermy oogkontak en skuur verby 'n groep individue (die media) wat die afgelope week 'n kardinale rol gespeel het om die nuus van hul dogtertjie se ontvoering op die nasionale, selfs internasionale agenda te plaas.

Hier is joernaliste, mense wat self ouers is en verlede Maandagaand teen druktyd die storie van Amy’Leigh op papier, radio en televisie moes kry. Ons het, dankbaar dat ons eie kinders veilig in die bed is, ons angs en bekommernis onderdruk om Amy’Leigh se storie die wêreld in te stuur. Dit was 'n sukses. Dit het dinge “warm gemaak.” Ons kon die angs en trane en hopeloosheid verstaan. Ons het dit self ook meegemaak, maar geen oogkontak nie.

Tydens die drie verdagtes se verskyning, tussen al die drama wat op 'n gewone dag met 'n hofsaak gepaard gaan, kon ek myself nie keer om vandag die hele tyd aan 'n WhatsApp-stemnota te dink wat Tharina Human kort ná Amy-Leigh se beweerde ontvoering aan ouers gestuur het nie: “… Mense moet eintlik so versigtig wees waar ons ons kinders post op social media… Daar is sicko’s daarbuite,” sê sy in een van die boodskappe. Sy vervolg deur te noem dat sy self nooit daaraan sal dink om 'n kind te ontvoer nie en dat mense bli***** is. Haar woorde bly in my gedagtes spook terwyl sy, ironies genoeg, vandag hier in Vanderbijlpark in die beskuldigdebank staan. Sy was na bewering die baasbrein agter die ontvoering. Dit laat my dink aan 'n toneel uit 'n misdaadrolprent waar iemand vermoor is en heel aan die einde vind jy uit dat die moordenaar al die tyd déél van die soekgeselskap was.

Die drie verdagtes vandag hier in die hof sal op 19 September om borgtog aansoek doen. Hulle is onskuldig totdat die hof hulle uiteindelik skuldig bevind. Dit is hoe ons regstelsel werk. Hulle het nog nie gepleit nie.

In 'n saak waar baie fopnuus die ronde gedoen het, is een ding seker: Tharina se woorde in haar stemnota dat mense versigtig moet wees oor watter inligting hulle oor hul persoonlike lewe en dié van hul kinders op sosiale media plaas.

Ek het 'n paar dae gelede gesidder toe ek self gaan kyk het wat 'n vreemdeling alles op my platforms kan sien. Dit laat 'n mens net weer besef dat in 'n land waar die absurdste stories 'n werklikheid is (soos moontlik in die geval) dit ons plig as ouers is om ons kinders teen die “sicko’s” daarbuite te beskerm.

“Daar gaan nog baie wurms in hierdie saak uitkom,” sê ‘n kennis na aan die saak buite die hof vir my. “Julle moet dophou, mense gaan geskok wees.”

Foto’s uit die hof:

  • 185
  •  
  •  
Mia Slabbert Deur Mia Slabbert


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close