Algemeen -

Inflasie! Tyd vir paniek?

Nee wat, dis nie nodig vir inflasiepaniek nie, maar dit maak ook nie die ekonomiese toestand aangenaam nie. Hoë inflasie is min of meer die enigste ekonomiese verskynsel waaroor salaristrekkers regtig kan kla en met reg die “ekonomie” kan blameer. Pryse styg elke dag, maar jou salaris word net een keer per jaar aangepas. Dis hoekom dit belangrik is om 'n vakbond aan jou kant te hê, sodat daardie “een keer per jaar” in jou guns kan werk. Dis nou ook natuurlik as jy in 'n bedryf met kollektiewe bedinging werk.

Hier by ons is inflasie, buiten brandstofinflasie, vir 'n slag laer as in die res van die wêreld. Ons het egter steeds baie om oor te kla. En dan word rentekoerse ook nog verhoog. Alles is dus duurder en die huis wat jy 'n jaar of wat gelede net-net kon bekostig, is nou eintlik onbekostigbaar. Nadat jou huispaaiement betaal is, is daar skielik min van jou salaris oor en dan is alles ook nog elke maand duurder as die vorige maand. Boonop sal die rentekoersverhoging niks doen om inflasie te temper nie. Dit sal ons net vinniger oor die afgrond stoot.

Mense wat bly is oor die hoër rente wat hulle op hul spaarrekeninge verdien, moet hulself eerder afvra hoekom dit nie in beter produkte belê is nie. Ja, spaarrekeninge en geldmarkfondse is laerisikoprodukte, maar dit gaan gepaard met gewaarborgde lae opbrengs. So watter risiko’s ontduik jy nou eintlik?

Maar terug na inflasie. Ons buurland Zimbabwe het in die afgelope paar dekades 'n paar keer hiperinflasie beleef. Ek was verlede week daar, en oral probeer mense ou note met baie nulle op aan toeriste smous vir aandenkings. Tans is hulle weer in 'n siklus van hiperinflasie, met sowat 25 Zim dollar vir R1. As jy pryse omreken na rand lyk dinge ook sleg vir die mense van Zimbabwe, soos R8 vir 'n broodrolletjie wat hier R1,40 kos, en R80 vir 'n pak Lays-tjips. 'n Halwe gemarineerde hoender kos R270. Dis dan geen wonder dat Zimbabwiërs hul lewens waag om hierheen te kom nie. Tuis sou hulle sterf van die honger.

Ons behoort darem nie hiperinflasie te beleef nie, of ten minste nie in die afsienbare toekoms nie. Ons sien egter wel inflasie op twee fronte. Die rand verswak en produkte word al duurder. As Bitcoin en ander kriptogeldeenhede se waarde verlaag, praat almal daaroor, maar as ons geldeenheid se waarde verlaag, kla ons maar net oor die pryse van produkte. Daarvoor moet ons die regering blameer, maar nie net ons eie regering nie. Die VSA het die afgelope jaar verskriklik baie nuwe geld in sirkulasie gebring. Geld is geld, ongeag wat jy dit noem, en die effek kring dan ook uit na euro’s, ponde, rande en alle ander geldeenhede in die wêreld. As ons regering dan beleid in plek stel wat geld uit die land laat vloei, verswak ons geld se waarde erger as ander lande s’n. Dis hoekom jy elke keer skrik as jy sien wat jou mandjie kruideniersware kos. Maar dit sal nie vir ewig aanhou nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close