Algemeen -

Internskap

Soms gebeur dinge met jou of 'n geleentheid kom oor jou pad en dan wonder jy hoekom dit met jou gebeur. Jy is in 'n gemaksone, jy het mos werk. Jy is gelukkig waar jy is. Dit is waar ek in 2016 was. Ek het 'n relatiewe goeie werk gehad, maar ek was nie seker of dit is wat ek vir die res van my lewe wou doen nie. Ek het so lank gebid en vir die Here gevra om vir my te wys of ek in daardie beroep moes bly of nie. Die volgende oomblik, heeltemal onverwags, kom 'n geleentheid oor my pad. 'n Internskap het aan my deur kom klop.

Ek het altyd gewonder hoe dit sal wees om dit wat ek op universiteit geleer het, prakties toe te pas en om ervaring in my veld op te doen. Soos jy kan dink, het ek die internskap met albei hande aangegryp. Ek het so baie geleer en gegroei, op 'n persoonlike vlak en in my beroep. Vandag is ek nie 'n dag spyt dat ek hierdie geleentheid aanvaar het nie. Dit was nie altyd maklik nie, veral nie om my voltydse werk te bedank en 'n internskap te aanvaar wat slegs vir 'n bepaalde tyd was nie. Hierdie tydperk was vol onsekerheid, angs, beloning, groei, oomblikke van “ek kan nie glo ek het dit nou net gedoen nie”, maar vir my was dit die beste besluit wat ek kon neem. Ek het dit gedoen met geloof in die Here en sy plan vir my lewe.

Hoekom vertel ek hierdie storie vir jou? Want ons het 'n opwindende geleentheid vir jou. 'n Maatskappy in die versekeringsbedryf bied tans 'n internskapgeleentheid vir tien jongmense wat gereed is om hulle hande op te steek en die geleentheid aan te gryp. Jy gaan opleiding ontvang in versekeringstelsels en -produkte. Ná die tydperk van 12 maande gaan jy ervaring in die versekeringsbedryf hê en jy gaan die opsie hê om by enige versekeringsmaatskappy te kan werk. Verder kry jy geleentheid om 'n werkswinkel saam met Solidariteit Jeug en Solidariteit Jongwerkende by te woon waar jy waardevolle vaardighede gaan aanleer. Ons gaan die pad saam met jou stap en saam met jou deur jou moeilike situasies werk, saam met jou opgewonde wees oor die klein oorwinnings en saam gaan ons die groot oorwinnings vier.

Wonder jy dan nog? Wanneer laas het jy iets vir jouself gedoen? Is hierdie internskap nie dalk daardie geleentheid waarvoor jy gebid het nie? Doen vandag nog aansoek vir hierdie internskap, klik hier.

  •  
  •  
  •  
Deur Marike Pitzer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close