Algemeen -

Is dit Cyril se geld?

Hoe sal ons weet of dit wel Cyril se $4 miljoen, oftewel R64 miljoen was? Ons sal waarskynlik nooit weet of die geld gesteel was, of nie. Wat ons wel met redelike sekerheid weet, is dat daar nie belasting daarop betaal is nie en dat die geld nooit verklaar is aan dié instansies wat geld beheer nie.

Wat ons ook weet, is dat eerlike mense nie hul geld in hope kontant hou nie – wat nog te sê om dit in hul meubels te versteek. 'n Mens doen dit slegs vir twee redes, maar gewoonlik sommer vir al twee redes gelyktydig. Die eerste rede is om belasting te ontduik. Die tweede is dat die geld 'n misdadige oorsprong het.

Om geldwassery moontlik en maklik te maak moet die produk of diens wat verhandel word aan 'n paar vereistes voldoen: Dit moet verkieslik wisselvallig wees, dit moet moeilik wees om die prys of waarde daarvan te kwantifiseer en dit moet moeilik wees om die volume van die transaksies te bewys. Waar dit die geval is, sak ongure karakters op 'n bedryf toe en gee dan dikwels 'n slegte naam aan die res van die bedryf. Restourante is 'n gunsteling vir die kleiner geldwassers. Dit is onmoontlik om te bewys of 'n restourant werklik honderde mense op 'n Dinsdagaand bedien het. As 'n restourant byvoorbeeld elke aand 'n omset van

R40 000 het, kan die eienaar op 'n stil aand maklik 'n groot spul kontant deur die boeke laat gaan en dit sal nie verdag wees nie.

Daar was nog nooit bewyse daarvan dat die wild- en veebedryf 'n front vir geldwassery is nie, maar dié bedryf voldoen aan al die vereistes om hom daartoe te leen. Soms word 'n bok teen 'n paar honderd rand verkoop; ander kere vir duisende of selfs miljoene. Gestel jy het 'n miljoen rand om te was. 'n Maklike manier om dit te doen is dan om 'n wildverkoper te nader om uit te vind hoeveel hy vir 'n dier verlang. Kom ons veronderstel hy wil R1 000 elk vir 'n honderd bokke hê. Die skurk kan dan vooraf na die verkoper gaan, hom R1 100 per bok aanbied, maar op die veiling R10 000 per bok betaal en 'n verduideliking oor genetiese diversiteit of iets dergeliks aanbied. Ná die tyd het die wildverkoper meer geld gemaak as wat hy verwag het. Hy gee die res van die bedrag aan die eintlike ontvanger onder een of ander dekmantel en al die geld is “skoon,” ten minste in die koper se boeke. Daar kan nie variasies op hierdie skelmstreek wees nie want dit is onmoontlik om die werklike waarde van die bokke, beeste of buffels te bewys. As dit op 'n veiling so bepaal is, dan is dit die waarde en dit staan so in die boeke.

Wat nóg meer verdag is van die dollars wat by Phala Phala gevind is, is dat Cyril en sy swaer, Patrice Motsepe, wild teen enorme bedrae van mekaar op veilings koop. Hoekom koop hulle nie direk van mekaar nie? Ek sê dus nie Cyril is 'n skurk nie, maar hy doen vir seker dinge wat skurke doen.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close