Algemeen -

Is #FreeBritney ’n simptoom van ons tyd?

Vir dié van ons wat in die vryemarkstelsel glo, is vryheid een van die waardes wat ononderhandelbaar is. Daarsonder is dit per definisie nie meer vry nie, en ook nie meer veel van ’n mark nie. Een van die voorwaardes van vryheid is die aanname dat elke deelnemer van die mark ’n vrye individu is, en bevoeg is om hulle eie ingeligte besluite te kan neem. Dié mark word volgens hierdie beginsels daargestel, maar in die praktyk vind dit nie altyd uitvoering nie.

Geen ingeligte verbruiker sal byvoorbeeld aan ’n lotery deelneem en verwag dat die miljoene gaan inrol nie. Tog, hopelik nie gereeld of obsessief nie, doen almal dit. Dit is een ding om te droom van die dag wat jy die lotto gaan wen, maar iets heeltemal anders om intussen met ’n eiendomsagent van Clifton ’n afspraak te maak.

Net so is dit uiters onnosel om onnodige goed met ’n kredietkaart of ander vorm van skuld te koop. Tog is dit ’n moeilike les wat die meeste mense maar self moet leer. As gevolg hiervan is daar wetgewing wat banke en ander soortgelyke instansies verbied om soos ’n paar jaar gelede, sommer ’n ongevraagde kredietkaart vir enigiemand deur die pos aan te stuur, reg om gebruik te word. Juis omdat die meeste mense nie heeltemal so in beheer van hulle geldsake is, as wat hulle graag sal wil dink nie. ’n Dekade van verstandigheid kan in een roekelose dag ongedaan gemaak word.

En dít bring ons by Britney Spears, een van die mees herkenbare popsangeresse van ons tyd. In die 1990’s en 2000’s het daar nie ’n dag verbygegaan wat al die pop-radiostasies nie ten minste een van haar liedjies gespeel het nie. Haar loopbaan het begin toe sy nog ’n tiener was, maar tog is sy deur die media soos ’n volwassene hanteer. Ongesond, om die minste te sê. Toe raak sy in 2008, soos bykans al die voormalige kindersterre, sowaar die kluts kwyt, waarna haar pa as kurator van al haar finansiële- en ander belange aangestel is.

Nou, dertien jaar later, is sy steeds in hierdie kuratorskap vasgevang. Tot onlangs toe het sy nog opgetree, verskeie albums uitgereik en oor die algemeen ’n baie produktiewe loopbaan gehad. Met die nadeel, dat sy glad nie die vrugte daarvan kan pluk nie. As gevolg hiervan het haar ondersteuners heeltemal geregverdig die #FreeBritney-veldtog op sosiale media en deur middel van fisiese betogings van stapel gestuur.

Haar ondersteuners is reg, maar ongelukkig hanteer hulle dit op die verkeerde manier. Aanlyn aktivisme het selde ’n uitwerking as dit nie gebruik word om werklike regsprosesse, of ander prosesse waar die “oortreders” direk betrek word, te ondersteun nie. In hierdie geval is dit bitter moeilik, want die enigste mens wat werklik hierdie kuratorskap kan beveg is Britney self. Aangesien die hof haar onbevoeg verklaar het om hierdie tipe besluite te neem kan sy ongelukkig nie. Dit is ’n dooiepunt, as ek nou al ooit van een gehoor het.

Hierdie is maar slegs een voorbeeld van waar skurke reg staan om in te spring, sodra ’n geleentheid hom voordoen. Ander voorbeelde hiervan is mense wat deur hulle eie broers en susters ingeloop word wanneer hulle ouers se testamente in die laaste oomblikke verander word. In hierdie gevalle is die wet van uiterse belang om mense te beskerm.

Wanneer hierdie wet nie meer die individu se vryheid dien nie, stel dit een van die hoekstene van die Westerse beskawing; die vrye outonome individu in gedrang. En deesdae voel dit of die hele Westerse beskawing onder beleg is.

Foto bron: Kulture Hub

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close