Algemeen -

Is jy gereed vir 'n parallellogramseisoen?

Plaas jouself vir 'n oomblik saam met my in die volgende scenario:

Ons sit in die skoolsaal, vol verwagting en met blink oë, want vanaand is hier minstens 200 toekomsplanne en drome, en ja, sommige daarvan is illusies.

Ons is in graad 9 en ons praat vakkeuses – daardie gevreesde VAKKEUSE-woord.

Die pa langs my mompel aan sy kind: “Jy kies vakke wat jou in die universiteit gaan kry.” Die einste pa sê ook dat die vak Toerisme vir die lui kinders is; in sy dae was daar nie eers iets soos Toerisme nie.

Ja, oom, en in julle dae het julle seker nog met vere en inkpotte ook geskryf, dink ek by myself.

Ek luister aandagtig na die personeellid wat op die verhoog staan, eers vriendelik maar toe prekerig en uiteindelik dreigend.

Die genoemde personeellid praat net kode taal NSS, TPT, NKR, NQF, en al wat ek vir haar wil sê is WDH – wat de heng, Juffrou!

“Die grootste besluit van jou lewe vind nou plaas, in graad 9,”…word aan die graad 9-leerder gesê wat nie eers kan besluit wat op sy toebroodjie vir pouse moet wees nie.

Ek luister aandagtig hoe die personeellid preek oor die leerder se belangrike verantwoordelikheid in hierdie opsig omdat oningeligte besluite oor vakkeuses hulle toekomstige loopbaanbeplanning kan benadeel. “Vakkeuses is soos trou – jy doen dit net een keer en jy doen dit reg.”

Ek is van mening dat bruin papiersakkies tydens ’n vakkeuse-aand uitgedeel moet word. Sweet slaan op sommige voorkoppe uit, ander lyk of hulle binne die bruin papiersakkie moet asemhaal, en die res, nou ja, na aanleiding van die gelaatskleur vermoed ek hulle voel ietwat “karsiek”.

Oor die afgelope 15 jaar het ek al 'n paar vakkeuse-aande gefasiliteer. Met 'n “paar” bedoel ek nogal baie, en ek deel graag die volgende raad wanneer dit by vakkeuses kom:

  • Vind jou passie en volg jou EIE belangstellingsveld – die uitdaging lê nie daarin om één finale keuse oor 'n beroep te maak nie, maar om jou topbelangstellingsvelde te bepaal en daarvolgens vakke te kies.
  • Versamel inligting. Dit is dikwels die moeilikste raad en ook die een wat ouers en leerders moedeloos maak, veral as jy nie weet watter loopbaan jy wil volg nie.
  • Voltooi 'n Loopbaankompas-toets waar daar op belangstellings, persoonlikheid en aanleg gefokus word.
  • Kies vakke wat jou die kans sal gee om vir jou 'n werk te verseker, en fokus op toekomsgerigte vaardighede – leerders moet ondersteun en begelei word met die regte raad om dan SELF die beste vakkeusebesluit te neem. Die ondersteuning en inkoop van ouers speel 'n belangrike rol. Onthou egter die loopbaan wat jy gaan kies, moet jou gelukkig maak, nie jou ouers, onderwyser of vriende nie.
  • Omstandighede maak nie van jou 'n slagoffer nie; onthou, die wêreld is groter as jou tuisdorp, en niemand kan geleerdheid van jou af wegneem nie.
  • Skaduwerk – doen voortdurend skaduwerk. Maak dit deel van jou navorsing en ondersoek elke moontlike geleentheid vir skaduwerk, want hierdeur kry jy praktiese ervaring in 'n bepaalde werk- en beroepsomgewing, en sal jy vinnig leer wat jou energie verskaf en wat nie.
  • Maak seker jy is bewus van die verskillende toelatingsvereistes om aan jou voorkeur- tersiêre instansie te kan studeer.
  • Neem die besluit tussen Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid.
    Ons weet dat nie almal ewe lief is vir Wiskunde nie.
    Onthou dat 'n slaagpunt in Wiskundige Geletterdheid vir 'n leerder beter is as 'n druippunt in Wiskunde. Dit is ook belangrik om te weet dat dit nie die einde van jou loopbaanpad is indien jy nie Wiskunde neem nie. Daar is talle studierigtings beskikbaar vir leerders wat Wiskundige Geletterdheid as vak neem.  Dit is ook 'n feit dat hierdie leerders net so suksesvol in hul latere beroepe kan wees as hul kollegas wat Wiskunde as vak geneem het.
  • Laastens beklemtoon ek weer, ontdek en volg jou passie! Geniet hiérdie reis na jou toekoms- en loopbaanpad.

Soos Confucius gesê het, “ Kies 'n beroep waarvan jy hou, en jy sal nooit voel asof jy 'n dag in jou lewe gewerk het nie.”

‘n Woord van dank gaan aan my graad 10 Wiskunde-onnie, juffrou Van Eeden. Ek is so dankbaar ek het van parallelogramme geleer in hoërskool Wiskunde in plaas van hoe om my belasting in te dien. Dit kom so handig te pas gedurende parallellogram-seisoen!

Beste Graad 9-leerder, maak jou loopbaanpad 'n ontdekkingsreis van leer; beproef alles maar behou die beste!

  •  
  •  
  •  
Deur Izelle Palmer Du Preez


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close