Algemeen -

Is my kortpad na sukses konstante leer?

Yuval Noah Harari, 'n Israeliese intellektueel, historikus en professor aan die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem se Geskiedenis Departement, beskryf in sy boek, Homo Deus, die mensdom se roetine wanneer hulle wakker word na 'n nag se rus as universeel dieselfde: 'n roetine van opstaan, gesigwas en kyk hoeveel plooie ons bygekry het. Dit is min of meer wat ons almal doen, waarna die ketel vir koffie aangeskakel word. Wat meeste mense wel dadelik doen is om na hulle slimfone te kyk — wie het my plasing van gisteraand gelees wat op verskeie sosialemediaplatforms geplaas is? Dan kyk ons na ons dagboek en die dag wat vir ons voorlê. Ons hele lewe is vasgevang in 'n warrelwind van tegnologie wat deur 'n kennisrewolusie gedryf word. Die impak is so groot dat ons lewens onwetend deur algoritmes bepaal word.

Ons word elke dag met soveel inligting oorval van verskillende aspekte van menswees en sukses. 'n Selfhelpkategorie wat wissel van persoonlike ontwikkeling tot en met dit wat die sleutel tot sukses in 'n spesifieke beroep is, is van die algemeenste kategorieë. Die sukses van boeke in hierdie kategorie is 'n bevestiging van die mensdom se soeke na 'n kortpad na sukses. In 'n wêreld wat konstant bly verander is dít waaraan sukses gemeet word dalk van korte duur? Of is sukses van korte duur juis omdat alles so vinnig verander?

Die Covid-19-pandemie het die vinnige tegnologiese verandering beklemtoon. Die reusespronge wat geneem is in beroepe om binne dae, weke en maande te kon aanpas beklemtoon die belangrikheid om relevant te bly te midde van die konstante verandering van elke beroep. Om 'n positiewe ingesteldheid tot lees en leer te hê is die sleutel tot sukses. Om voortdurend te bly leer en lees berei jou voor vir die onverwagse verandering in jou beroep. Die opgeboude kennis van alles wat jy oor 'n aantal jare gelees het, en die nuwe vaardighede wat jy aangeleer het, stel jou in staat om konstant jou perspektief te verander. Ongeag hoe goed die boek is wat jy gelees het, of die kortkursus wat jy aangepak en suksesvol voltooi het, jou perspektief kan nooit weer dieselfde wees nie. Iets in jou het verander en enige verandering begin by jouself. Aristoteles het gesê ons is wat ons herhaaldelik doen en dat uitnemendheid nie 'n eenmalige aksie is nie, maar 'n gewoonte.  Die belang daarvan om voortdurend te leer en te lees het 'n beduidende invloed op ons sukses in die kennisrewolusie waarin ons onsself bevind. Lees en leer voortdurend en maak dit deel van jou gewoontes. Dít is jou kortpad na sukses.

  •  
  •  
  •  
Higgs Deur Higgs


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close