Algemeen -

Is staatskuld ooit goeie skuld?

Die staat se skuldlas het die afgelope vyf jaar met omtrent R1 800 miljard (R1 800 000 000 000) toegeneem. Die nasionale begroting vir vanjaar is R2 160 miljard, wat beteken dat die land jaarliks omtrent 'n vyfde van sy begroting deur middel van skuld finansier. Die bykomende uitgawe van so 'n enorme skuldlas is net oor die R300 miljard aan rente en terugbetalings. Dit is so baie dat die staat, as hy skuldvry was, elke sewe jaar die hele begroting kon dek as daardie R300 miljard eerder gespaar was as om dit aan rente te spandeer.

Die kwessie van staatskuld is een waaroor ekonome nog nooit saamgestem het nie. Party meen dat die staat skuld moet aangaan om sy verpligtinge na te kom. Ander meen weer dat die staat se fiskale volhoubaarheid veel belangriker is as enige verpligtinge teenoor burgers. Albei ekstreme bevat iets van die waarheid, maar die manier waarop die Suid-Afrikaanse regering met skuld omgaan, is beslis onvolhoubaar en bloot dwaas.

'n Mens kan dit vergelyk met groot infrastruktuurprojekte wat al elders in die wêreld aangepak is. Een so 'n voorbeeld is die Duitse Autobahn- en ander infrastruktuurprojekte, wat deur Adolf Hitler en vriende gebou is. Dit is op skuld gedoen. Daardie skuld is nooit terugbetaal nie, maar die infrastruktuur het bly staan en het daartoe bygedra dat Duitsland vinnig een van die grootste ekonomieë in Europa en later in die wêreld kon word. Nie eers die Tweede Wêreldoorlog kon Duitsland se groei vir ewig vernietig nie.

'n Ander voorbeeld is die sogenaamde New Deal wat Franklin D. Roosevelt aan Amerikaners gebied het. Dit het behels dat die staat, ook grotendeels op skuld, maar ook deur hoër belastings, in enorme infrastruktuurprojekte belê het, subsidies uitbetaal het en soms sommer net geld uitgedeel het. Dit het gemengde welslae behaal. Die positiewe impak van paaie, spoorlyne, hawens en damme is onbetwisbaar. Die negatiewe impak van hoër belasting, persoonlike afhanklikheid van die staat, sinnelose subsidies, verdere verwagtinge van staatsingryping en talle ander voordele is net so duidelik en onbetwisbaar. Die VSA betaal nou nog af aan van die lenings wat hiervoor aangegaan is.

Suid-Afrika se skuld het toegeneem asof ons regering 'n nuwe land bou, maar niks is gebou nie. Ons huidige infrastruktuur, met uitsondering van 'n paar nasionale paaie, word nie eers in stand gehou nie. Daar word weinig nuut gebou. Om die waarheid te sê, vaste kapitaalvorming het die afgelope twee jaar met omtrent 20% afgeneem. Dit is dus nie meer vorming nie, maar vernietiging van ongeveer 'n vyfde. Die land het nou slegs 80% soveel bates, maar ons verwag dat die selfde, of beter uitsette gelewer word om die groter-wordende skuldlas te delg.

Staatskuld is selde 'n goeie ding, maar waar dit toeneem sonder dat burgers na iets kan wys en kan weet dit is waar die geld heen is, is dit 'n ramp wat op pad is. In die stadium kan ons net na die rye mense wat buite poskantore vir toelae toustaan en die leeglêery en drankmisbruik in die parkie wys.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close