Deur Inge Strydom

 

Werknemers moet beslis op hoogte wees van die groter projekte wat in hul afdeling by die werk aan die gang is. Die redes vir afdelingsvergaderings is daarom voor die hand liggend: Dit skep samehorigheid onder personeel; laat almal verstaan wat hul rol in die afdeling of maatskappy se groter korttermyndoelwitte is; en dit kan ideestormsessies en dies meer aanwakker. Kenners maan egter dat weeklikse afdelingsvergaderings maklik oneffektief en tydrowend kan wees.

 

In die artikel, “Four good reasons to cancel your weekly staff meeting, wat op www.forbes.com verskyn het, word verskeie redes genoem waarom maatskappye beter daaraan toe is om nie afdelingsvergaderings slaafs te hou nie. Een van die redes wat genoem word, is die feit dat werknemers se werksvloei onderbreek word en kosbare produksietyd verlore gaan wanneer vergaderings onnodig lank uitgerek word.

 

Die artikel stel voor dat bestuurders eerder van kort SMS- of e-posboodskappe gebruik moet maak wanneer belangrike inligting onder personeel versprei moet word. “Elke personeellid kan dan die boodskappe op sy of haar eie tyd lees,” verduidelik die artikel.

 

Dit is ook belangrik om vergaderings met produktiwiteit en effektiwiteit in gedagte te skeduleer. Is dit byvoorbeeld nodig om elke lid van die afdeling na die vergadering te nooi, of sal dit voldoende wees om slegs een onderafdeling van die groter afdeling te betrek? Wie het direkte belang by wat in die vergadering bespreek word en wie nie?

 

Dit is slegs enkele voorbeelde van die maatreëls wat aangewend kan word om produktiwiteit in jou afdeling of maatskappy te verhoog. Die uitskakeling van onnodige, lang en vervelige vergaderings is beslis een van die beste maniere waarop effektiwiteit in die werkplek 'n hupstoot gegee kan word.

  •  
  •  
  •  
Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close