Politiek -

Ja, ek vier Republiekdag, meneer die president

Die mees onlangse nuusbrief van die president is op 31 Mei gepubliseer. Republiekdag.

 

Ek was met ongeloof vervul oor dit wat hy in daardie skrywe kwytgeraak het – nie noodwendig oor die verlede nie, maar wel oor dit wat hy voorhou as die waarhede van die hede.

 

In die brief het hy genoem dat Republiekdag 'n dag is wat die meeste Suid-Afrikaners eerder nie wil onthou nie, en hy verwys daarna as 'n “ongelukkige herdenking”. Daarna spits hy homself toe op die hede waar hy die huidige Suid-Afrika as 'n land waar “die reg eenders op alle burgers van toepassing is” beskryf, en “die regeringstelsel ware betekenis aan die konsep van 'n republiek gee”.

 

Sy narratief het my verstom. Soveel bitter beskuldigings, want soos gewoonlik moes nog 'n geleentheid om af te breek en kwaad te stook met beide hande aangeryp word om sodoende die aandag van 'n falende staat weg te lei en dit te verplaas na 'n regering wat al vir meer as twee dekades nie meer aan bewind is nie.

 

Hier is wat ek dink van “demokratiese Suid-Afrika”:

 

Dit is 'n klug. Dit is nie 'n nasie wat verenig is nie. En die skuld daarvoor, meneer die president, is nie te lê voor die deur van 'n apartheidsregering en dit wat hulle gedoen of nie gedoen het nie. Dit is te lê voor die ANC-regering en dit waarmee hulle hulself besig hou.

 

Die president praat van tirannie; tog versuim hy om te erken dat sy regering se drakoniese maatreëls en beperkende regulasies in werklikheid ook 'n vorm van tirannie is. So ook is SEB-bepalings en kwotastelsels wat reeds op laerskoolvlak geïmplementeer word bloot omdat die regering nou al jare lank versuim om sy werklike plig na te kom, want hy plunder eerder die staatskas as om sy eie mense te bemagtig en vooruitgang te stimuleer.

 

Die waarheid is egter dat ons nie almal voor die oë van die reg in hierdie land gelyk is nie. Vandag bly ons steeds in 'n Suid-Afrika waar die kleur van jou vel bepaal of jy hulp ontvang, kwalifiseer vir 'n pos of goed genoeg is vir 'n sportspan. Regte word onder 'n dekmantel ontken en onder daardie selfde dekmantel raak staatsamptenare en kaders se sakke vol terwyl die belastingbetaler opdok en die wit Afrikaner voorgehou word as die ewige sondebok wat ad infinitum moet betaal en maar elke maal die houe moet vat vir die rampe waaraan die huidige regering homself skuldig maak.

 

Ek wil vandag baie eenvoudig sê “nee”. Nee vir die kriminalisering van geskiedenis en my herkoms, en nee vir die heldeverering wat diewe en skenders elke dag kry. Nee vir rassebeleide en velkleur wat te lig is. Nee vir wanbesteding in en die onbevoegdheid van die staat. Nee vir ongrondwetlike beleide wat niks anders as 'n nuwe apartheid is nie. Nee vir die onderdrukking en ontkenning van minderhede in Suid-Afrika.

 

Ons is hier, of die president en sy regering dit nou wil erken of nie. Ons praat Afrikaans, of dit nou as uitheemse taal bestempel word of nie. En ons verdien 'n gelyke kans en 'n gelyke toekoms waarvoor ons werk en waaraan ons self bou. En terwyl die regering vingers wys en daagliks aan beskuldigings herkou en nuwe maniere van diskriminasie uitdink, wil ek hulle verseker ons staan nie stil nie. Ons belê in onsself en ons toekoms. Ons veg vir die regverdigheid wat ons ontsê word.

 

Onderdrukking is nie iets wat die Afrikaner aanvaar nie. Republiekdag is ook nie vir ons 'n ongelukkige herdenking nie. Dit was 'n baie belangrike mylpaal op Suid-Afrika se pad na demokrasie, selfs al was dit nie een waarvoor almal op daardie tydstip gehoop het nie. Dit is immers die dag waarop die land van sy werklike koloniale status bevry is, en al sou verdere onregte nog jare vat om opgelos te word, was dit beslis die eerste tree op daardie langsame pad – 'n pad wat sedertdien en veral onlangs op verskeie maniere byster geraak is.

 

Ek het Maandag republiekwording gevier, en daarmee saam vier ek onafhanklikheid en die veerkragtigheid waarmee ek as Afrikaner geseën is. Respekteer my en my plek en staak die antagonisme wat my geskiedenis en bestaansreg in hierdie land beswadder en bevraagteken. Ek bly.

  •  
  •  
  •  
Johnell Van Vollenhoven Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close