My Werk -

Jaareindfunksie: Sluit die jaar af op ’n hoë noot

Jaareindfunksies is verseker die werk se sosiale hoogtepunt van die jaar. Dit is ’n geleentheid om van al die jaar se bedrywighede en stres te vergeet en om die jaar op ’n hoё noot af te sluit. Die probleem met ’n jaareindfunksie is dat alhoewel jy daagliks saam met jou kollegas werk en hulle goed ken in werksverband, jy nie heeltemal seker is hoe jy teenoor hulle en jou bestuurders moet optree by ’n sosiale funksie nie. Party mense het so ’n groot vrees vir die funksie dat hulle dan sosiaal heeltemal ongemaklik is by die funksie, terwyl ander weer té gemaklik en rammetjie-uitnek raak.

Hou die realiteit in gedagte dat jy, te midde van die feestelike vieringe, met kollegas by ’n werksfunksie sosialiseer, terwyl jou bestuurders in die omtrek is. Wees deel van die kameraderie en geniet dit in die gees van Kersfees, maar weet waar om die streep te trek.

Pas die volgende paar wenke toe om ’n positiewe en onvergeetlike jaareindfunksie te verseker.

  1. Die jaareindfunksie is verseker die regte plek om goeie indrukke te skep. By so ’n funksie is die gewone hindernisse uit die weg geruim omdat dit in ’n gemaklike, informele omgewing gehou word. Dit bied geleentheid om mekaar beter te leer ken, maar onthou dat dit nie die plek is om oor werk te praat nie. Mense wat gewoonlik moeilik is om in die hande te kry, is nou baie meer toeganklik.
  2. Dit is ook baie belangrik om seker te maak of ’n spesifieke kleredragkode geld. As jy té formeel of té informeel aangetrek kom, kan dit jou ongemaklik laat voel en so kan dit jou aand heeltemal bederf. As julle volgens ’n tema moet aantrek, maak gebruik van die geleentheid want dit wys jy hou daarvan om deel te wees van ’n span.
  3. Dit is ook ’n geleentheid om jou kollegas op ’n persoonlike vlak te leer ken. Jy weet nooit, vriendskappe kan dalk net uit die geleentheid ontwikkel. Jy moet ook onthou om altyd beleef te wees teenoor jou kollega se metgesel.
  4. Eet voor jy drink. Dit sal help dat jy die aand langer saam met jou kollegas kan geniet, en sal voorkom dat jy rammetjie-uitnek raak.
  5. Moenie rede soek om oor mense by die werk te skinder nie. Moenie eers daaraan dink om op die tafels te dans of by een van jou kollegas vlerk te sleep nie.
  6. Tree altyd verantwoordelik op deur ’n plan te maak om veilig tuis te kom as jy dalk jou limiet oorskry het.

Alhoewel die jaareindfunksie die perfekte geleentheid is om uiting te gee aan jou prettige sy en werksverhoudinge te bou, moet jy onthou dat dit steeds ’n besigheidsfunksie is. Maak seker dat jy die regte boodskap uitstuur om dit só ’n loopbaanbouende geleentheid, eerder as ’n loopbaanbrekende een te maak.

  •  
  •  
  •  
  •  
wilmarie Deur wilmarie


Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close