Uncategorized @af -

Jansen, daar skort NIKS met my opvoeding nie.

Prof Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), het hierdie week weer sy mond roekeloos uitgespoel oor Afrikaners en Afrikaans, en Jan Publiek aanvaar dit maar doodluiters.  Dit wil voorkom of politieke rolspelers in Suid-Afrika Afrikaners, wit mense, Afrikaanse mense en minderhede al hoe meer slegsê, vloek, kritiseer en uitkryt sonder om self oor die kole gehaal te word of ook deur die Menseregtekommissie of soortgelyke stelsels aangevat te word.

Ek weet nie of die mense maar net nie ag slaan op wat hy te sê het nie, wat ek hoop wel die geval is, en of almal maar ewe gedwee met sy verregaande uitlatings saamstem nie.  Ek kan vandag sê dat my vrou en baie ander Afrikanervroue nie met sy gevaarlike veralgemenings saamstem nie.  Ek gaan dit nie hier regverdig deur te sê hoe oulik en goed alle Afrikanermans is nie, want natuurlik is almal nie dieselfde nie, maar so is alle bruin, swart en Indiërmans ook nie dieselfde nie.  Die individu is hier meer van belang.

Dit het my nie verbaas nie maar steeds geskok dat Jansen op ’n senaatsvergadering gesê het iets skort met die opvoeding van wit Afrikanermans én daar is nou bewyse dat wit studente in Afrikaanse klasse bevoordeel word, en hy voer dan verder aan dat dit goed sal wees indien Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf word.  Sy agenda is ooglopend, naamlik om Afrikaans en haar sprekers vir oulaas af te takel.

Dit maak nie saak wat die voorval is, wat gebeur het of wie betrokke is nie.  Daar was al verskeie rasseherries en spanning op kampusse en in skole.  In so geval moet die persoon en die saak aangespreek word.   Daardie persoon se optrede getuig van sy opvoeding tuis.  Die Afrikanervolk voed nie die individu op nie, die ouers voed hul kind op, of behoort dit te doen.  ’n Man van Jansen se “statuur” behoort mos te weet dat jy nie 'n groep slegsê oor 'n individu se gedrag nie.  Maar dit is duidelik dat sy politieke en ideologiese agenda voorkeur geniet bo die sake wat regtig aandag verg en dit is om die individu te straf en nie die WIT individu se groep aan te val nie.  Boonop moet hy hom vir oulaas bemoei met universiteitsake eerder as om hom met rassistiese beledigings besig te hou.

As ons almal in Suid-Afrika nou Jansen se voorbeeld moet volg, kan ons wild oor en weer groepe begin beskuldig.  Ons kan Afrikanervroue as goedkoop afmaak na die ongelukkie wat in Schweizer-Reneke gebeur het, ons kan parapleë as moordenaars klassifiseer, en Indiërs as Zuma se vriende bestempel.  Maar wat hier vir Jan Publiek voor die hand liggend en verkeerd is, kan om een of ander rede nie by ’n professor posvat nie.

Sy politieke boelietaktiek word verder gevoer waar hy gesê het dat daar al baie aantygings was dat wit studente in Afrikaanse klasse bevoordeel word en dat jong Afrikanermans dink sekere goed kom hulle toe; hulle het nie respek vir ander nie en die probleem is by hul opvoeding.

Kom ek vertel jou 'n ding, Jansen. 

12799028_10153936248806894_5332312617519364176_n

Ek is Johannes Jurgens van den Heever, gebore 1981 in Robinson hospitaal in Randfontein.  Ek het as ’n plaasvoorman se seun in ’n plaasgemeenskap grootgeword. My ouers het my geleer jy gaan lê nooit en jy werk vir wat jy wil hê en albei my ouers is vandag oorlede.  Ek is elke Sondag kerk toe, ek het deure vir tannies oopgemaak en ooms met stywe handdrukke gegroet.  Ek het ’n studielening gekry om te studeer, ek het die studielening afbetaal deur in fabrieke te werk, ek het my eerste kar op die ouderdom van 24 gekoop (met geld wat ek gespaar het), ek moes meer as 20 keer hoor dat ek nie vir poste in my studieveld aanvaar kan word nie as gevolg van my velkleur, ek moes onderwys ekstra by my graad studeer (op eie koste) sodat ek ’n onderwyser kan word en ’n verskil kan maak.  En oor al die bogenoemde redes het ek by Solidariteit begin werk.  En ek is trots Afrikaans en ’n trotse Afrikaner.  Daar is nog baie soos ek.

Jansen, hou op om gemeenskappe te polariseer terwyl jy nog hier is.

Ek dink Amerika wink!

 

  •  
  •  
  •  
Deur juran


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close