Algemeen -

Jeugwerkloosheid

Suid-Afrika se werkloosheidsyfer onder mense tussen die ouderdom van 15 en 24 staan tans op ongeveer 75%. Vir mense tussen 25 en 34 jaar is dit nie veel beter nie, met 'n syfer van 51%. Dit beteken dat 'n hele generasie nooit die geleentheid gegun word om die waardes van die werkplek, soos hardwerkendheid, stiptelikheid en verantwoordelikheid, te leer nie.

Die minister in die Presidensie vir vroue, die jeug en persone met gestremdhede, Maite Nkoana-Mashabane, het onlangs gesê dat jeugwerkloosheid die nalatenskap van apartheid is. 'n Mens kan hierdie stelling egter sonder enige moeite as absoluut absurd afmaak. Die mense wat in 1994 gebore is, wat dus van geboorte af in die sorg van die ANC-regering is, is vandag 26 jaar oud. Die werkloosheidsyfer vir mense in hierdie groepering is ook kommerwekkend, op 51%. Dit was ook die jeugwerkloosheidsyfer in 1994. Dié syfer het toegeneem tot 61% in 2003, waarna dit 'n laagtepunt van 44,83% in 2008 bereik het. Daarvandaan het dit aanhou toeneem tot die huidige vlak waar drie uit vier jong Suid-Afrikaners werkloos is.

Minister Nkoana-Mashabane noem nie dat die werkloosheidsyfer vir ander ouderdomsgroepe heelwat beter lyk nie. Vir mense tussen 55 en 64 is die werkloosheidsyfer 22%. Steeds nie watwonders nie, maar hierdie mense, waarvan baie apartheid beleef het, is beter daaraan toe as enige ander groepe in die werksmag. Hoe meer blootstelling 'n mens dus aan die ANC se ondeurdagte en halfgebakte sosialisme gehad het, hoe kleiner raak jou kans om werk te kry.

Dit is egter nie 'n heeltemal hopelose situasie nie. Van die werklose deel van die bevolking het 52,4% nie matriek nie, en 37,7% het slegs matriek. Minder as 10% het 'n kwalifikasie. Dit wys duidelik dat vaardighede en kwalifikasies die sleutel tot indiensname is. Tydens die epidemie en die gepaardgaande inperking het werknemers met hoër opvoedingsvlakke ook deurlopend 'n groter deel van hul salarisse ontvang. Opvoeding is daarom gelyk aan groter sekerheid.

Vandag is daar meer opvoedingsgeleenthede as ooit. Die internet plaas bekostigbare vaardigheidsontwikkeling binne elkeen se bereik en dit is binne elke jong mens se vermoë om daardie stap te doen om een of ander vorm van vaardigheid te bekom. Solank as wat jong mense vir die regering wag om hulle van opleiding te voorsien, sal die enigste groeivooruitsig die groei in wanhopigheid wees. En daar is geen werksgeleenthede op moedverloor se vlakte nie.

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close