Algemeen -

Jou planne gaan nie altyd uitwerk soos wat jy wil hê dit moet nie

Jou loopbaanreis verloop nie altyd soos wat jy graag sou wil hê dit moet nie. Daar is soms afdraai- en kronkelpaaie op hierdie pad, maar elke liewe pad lei jou tog tot by die plek waar jy bestem is om te wees.

Ek wil jou vandag bemoedig. Jou planne gaan nie altyd uitwerk soos wat jy wil hê dit moet nie, jy gaan beproef word, en die reis gaan jou partykeer laat wonder hoekom hierdie dinge nou juis met jou gebeur. Wanneer jy moedeloos raak onthou net altyd dat jy nie alleen is nie en dat baie ander mense net soos jy voel.

Mý verhaal lyk presies soos hierdie een. Ek het as jongmens my eerste teleurstelling gehad toe ek nie keuring vir my honneursgraad – in die rigting waarin ek nog altyd gedink het ek eendag gaan werk – gekry het nie. Ek moes blitsvinnig 'n alternatief kry, want met my graad alleen sou ek nie veel kon doen nie. Ek het toe opsie B gevolg en besluit om verder te gaan gestudeer totdat ek by my eerste werk begin het.

So beland ek toe in die akademie, met 'n honneursgraad agter my naam, en die verwagting dat ek my meestersgraad sou doen. Maar hoe het dit gebeur? Ek het dan geen ondervinding van die praktyk nie. Van boekekennis het ek baie, maar hoe kan ek dan navorsing doen oor 'n onderwerp waarvan ek nog nie self ervaring het nie? Nietemin, so pak ek toe my nuwe reis aan, en met baie genade van Bo, voltooi ek my meestersgraad suksesvol.

Intussen het ek ook 'n loopbaanskuif gemaak en werk ek nou in die einste rigting waarin ek studeer het. Vier jaar later besluit ek dit is tyd vir my om 'n nuwe uitdaging aan te pak en ek aanvaar die pos waarin ek tans, as Jongwerkende Koördineerder, by Solidariteit werksaam is. My grootste passie is om met jongmense te werk, hulle te bemagtig en hulle met hulle loopbaanreis te help. Deel van my profiel is om vir jongmense die “kortpaaie” te wys van hoe hulle die werkplek kan bemeester.

Om 'n lang storie kort te maak – ek doen vandag eintlik die werk wat ek aanvanklik wou doen. My pad was wel vol kronkelpaaie, maar ek sou dit nie anders wou hê nie. Ek is vandag sterker, ek het ervaring opgedoen, en ek is vir seker op die plek waar ek moet wees.

Ek sien ongelooflik baie uit om in elkeen van julle se lewens 'n verskil te maak, en ek nooi ook elkeen van julle uit om julle storie met ons te deel.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Marike Pitzer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close