Uncategorized @af -

Jou trane mág vloei, mamma…

'n Ma se hart breek elke dag in stukke.
En vandag is myne weer in nege miljoen stukkies.
Ek het jou afgelaai, nie omdat ek wil nie; nie omdat ek nie van jou geskree hou nie; nie omdat ek dink iemand anders kan beter na jou kyk as ek nie.
Maar omdat mamma so ontsaglik lief is vir jou, klein Leo.
Mamma moet werk toe gaan, jy kan nie saam nie.
Ek het jou by die tannie gelos en nou sit ek hier op die trappies. Jy skree. Jy skree al 40 minute lank. Ek weet ek moes jou net aflaai en ry. Ek weet dit.
Maar ek het nie.

Jy weet dit nie, maar ek sit hier en huil saam met jou. Met elke hulpkreet breek my hart net meer. Ons mammas doen dit elke dag. Ons is die ware super women – sonder die noupassende korsette en die push-up bra’s.
Ek is seker daar is baie soos ek wat graag in 'n perfekte wêreld sou wou leef waar geld nie 'n faktor was nie, waar kruideniersware nie 'n arm en 'n been gekos het nie, waar huispaaiemente en belasting nie maandeliks met oop hande en 'n krieketkolf gestaan en wag het nie.

Werk is vir my lekker. Ek blom as ek kan werk. My werk is deel van my roeping.
Maar vandag is een van daardie dae waar ek tien teen een sonder grimering by die werk gaan opdaag. Alles is afgehuil. My gesig is kaal en my hart is seer.
Ons land se stories laat my hart klop. Ek is nie bang vir 'n bietjie chaos nie.
Maar jy, my Leo, maak van hierdie harde joernalis-mamma van jou 'n ou softy, amper 'n ou patetiese softy – skaamteloos.

Eina! Daar skree jy weer een van jou hulpkrete en ek wéét ek kan nie inhardloop om jou te red nie. Ek weet dit sal nie regverdig wees teenoor die juffrouens wat jou nou moet leer ken en leer bedaar nie. Jy skree nou al 'n uur lank. Ek is steeds net hier naby jou.
Hoe gaan ek hierdie paadjie van ons oorleef? Hoe gaan my hart sterk genoeg wees? Hoe gaan ek in my kar klim en jou net los? En ja, ek hoor die oordeel van mense: “Komaan, ons almal doen dit elke dag. Kry jouself bymekaar, vroumens!”

Wel Leo, jy het hierdie harde vroumens op haar knieë gedwing.
My hart is nederig (dalk vir die eerste keer in my lewe).
My liefde vir jou het alle hoë mure afgebreek. Ek staan kaal en broos.
En jy is dit werd.

Ek huil nie omdat ek jou jammer kry nie – jou ou lyfie is nog pap, maar jou hart is so sterk! Jou menswees is só ongelooflik. Jou lewe is só kosbaar.
Ek is jammer ek kan nie altyd alles vir jou wees nie. Ons paadjie mag dalk 'n bietjie meer uitdagend wees as die normale, maar wat is die lewe nou sonder 'n paar uitdagings, hè?
Ek sal my alles gee om vir jou genoeg te wees. Ek sal elke dag opnuut begin, met nuwe soene en 'n nuwe glimlag. Ek sal ons tyd saam elke dag koester.

Jy lê en skree steeds. Ek is steeds net 5 meter weg van jou agter 'n muur. Mamma is hier.
Jy weet dit nie, maar ek los jou sodat jy sélf kan sien hoe sterk jy is.
Sodat jy kan agterkom wat binne jou sterk hartjie lê.
Sodat jy kan sien dat daar ander maatjies is wat ook met uitdagings sit.
Van hulle het groot uitdagings en ander (soos jy) het kleiner uitdagings.

Ek los jou sodat jy saam met hulle kan leer hóé om verby jou uitdagings te kyk en met jou sterk hart en ongelooflike dryfkrag die lewe stip in die oë te kyk en te kan glimlag.
Jou glimlag sal 'n oorlog kan ontlont.
Jy is 'n Koningskind.
Jou bloed is Koningsbloed. Jou pad is reeds uitgelê en dit is iets om oor opgewonde te wees. Al ís dit vol uitdagings. Mamma gaan jou nie in watte toedraai nie, want ek sal die wêreld 'n onguns aandoen om jou net vir myself te hou. Jy is groter as die wêreld!
Jy is my reus!

So slaap sag. Maak jou hart rustig. Veg deur die trane. (Ek gaan ook.)
Al lees jy hierdie woorde eers oor 20 jaar moet jy vandag weet dat jou menswees en waarde en krag nie bepaal word deur wat jy nié kan doen nie. Jy moet weet dat jy reeds volkome perfek is. Van hier af verheug ons ons oor elke klein oorwinning.
Jy is sterk.
Jy is perfek.
Jy is my kind en óns is vegters.
Ons doen dit saam. Elke dag.
Ahhh – jy slaap uiteindelik. Ek gaan nou ry.
You got this, boeta!
Mamma is jou grootste, grootste aanhanger.
You got this!
En ons ook – we got this, mammas! Laat ons kinders se uitdagings nóóit groter as die geluk en seën van hul teenwoordigheid wees nie.
We got this!

  • 92
  •  
  •  
  •  
Mia Slabbert Deur Mia Slabbert


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close