Algemeen -

Jy is die ekonomie

Die mediumtermynbegrotingsrede is Donderdagmiddag deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, gelewer, waarna mense, hoofsaaklik ander vakbonde soos Cosatu, soos voorspel, hewige kritiek teen die begrotingstoespraak uitgespreek het. Volgens hulle is daar nie genoeg gesê oor die lot van die armes nie en te min word gedoen om geld aan armes uit te deel. Die fokus is volgens hulle te veel op groei, privatisering en welvaart, en te min op herverdeling.

Hierdie stryd is so oud soos die mensdom, maar daar hoef nie 'n stryd te wees nie. In die 1700’s het Adam Smith, die eerste ware ekonoom, geskryf dat geen samelewing florerend of gelukkig kan wees as die grootste deel van die bevolking arm en rampsalig is nie. Maar hoe help 'n mens 'n arm, rampsalige bevolking om voorspoedig en gelukkig te wees?

Die maklikste manier om dit te doen, is om werkgewers in 'n posisie te stel waar hulle maklik na hul werknemers kan omsien. Ons almal kyk tog eerste dat ons genoeg vir onsself het voor ons aan ander begin uitdeel. Dieselfde geld vir alle mense. Party mag dalk dink dat dit deugsaam is as iemand selfs die klere aan sy lyf uitdeel om ander te help terwyl hy self krepeer, maar dit is doodeenvoudig onnosel en onvolhoubaar.

'n Veel beter manier sal wees om 'n gunstige omgewing te skep waarin almal, mense en sakeondernemings, genoeg het om te floreer. Die ekonomie is nie 'n hoop geld wat iewers lê nie. Dit is ook nie die regering of die bank se geld nie. Dit is jou geld, en so ook almal soos jy se geld. As die ekonomie groei, beteken dit dat gewone mense en gewone besighede meer geld het. Dus, as dit met die ekonomie goed gaan, beteken dit dat dit met meer mense goed gaan.

So ook bestudeer ekonome nie die vloei van geld soveel as wat hulle mense se behoeftes en belangstellings bestudeer nie. As geld in 'n rigting vloei, vloei produkte en dienste terug. So is die kliënt se vermoë om vir die produk of diens te betaal 'n teken van voorspoed, en die persoon wat die produk of diens lewer word ook voorspoedig. So gaan dieselfde geld in 'n  ewige siklus en maak almal voorspoedig.

Baie mense is geneig om “die ekonomie” die skuld te gee vir alles en nog wat, terwyl hulle dieselfde salarisse kry. Die ekonomie, buiten nou natuurlik goed soos inflasie, raak hulle nie regtig nie. Die beginsels wat besighede maak of breek verval ook nie onmiddellik in 'n  slegte ekonomie nie. Dit word dalk 'n bietjie moeiliker om 'n sakeonderneming te laat werk, maar dit is beslis nie onmoontlik nie. Selfs in vlugtelingkampe stig mense dikwels florerende ondernemings.

Een seker manier vir die hele ekonomie om te groei, is as almal besluit om hul eie lot te verbeter, ongeag die omstandighede. Al wat die regering hoef te doen is om terug te sit en te kyk. Enige iets anders sal die proses belemmer. Die regering is nie die land nie en geld is nie die ekonomie nie. Ons is die land en ons bepaal die stand van die ekonomie.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close