Algemeen -

Jy is te slim om stupid te wees

Deur Brigitte Raath

Met sy kenmerkende vonkel in die oog hou Dirk die boek na my toe uit. My oog vang die outeur se naam en my moed sak summier in my skoene. Die skrywer en titel is genoeg om enige persoon wie se belangstelling eintlik in enige ander genre behalwe dié bepaalde een is, 'n angsaanval te gee. Opdrag: Maak die boek op enige bladsy oop, lees een paragraaf en gee weer wat daar staan.

Ek werk blitsvinnig 'n strategie uit en slaan vol verwagting die boek voor oop in die (skamele) hoop dat die skrywer in leketaal sou begin en in proffie-jargon sou eindig. My oog gly vinnig oor die eerste paragraaf; ek besef my plannetjie het tragies gefaal; laat die boek “per ongeluk” val; tel hom op en slaan dit weer oop – die keer nader aan die einde.

Ongelukkig kon ek nie my truuk herhaal nie en ek begin aandagtig aan 'n middelste paragraaf lees. Die plooi op my voorkop kerf so diep – as die haan drie keer moes kraai, sou die krater tussen my oë verseker 'n permanente letsel gelaat het. Die vonkel in Dirk se oog gaan oor in 'n lagbui en ek laat vaar my pose, stert tussen die bene.

Die idee was nie om my vas te vra nie. Daar was 'n rede vir die oefening, maar onmiddellik twyfel ek aan my eie vermoë, intelligensie en vernuf. Ek voel stupid en verwoord my onsekerheid en so leer ek toe 'n kosbare les – dom is relevant.

Hoeveel keer vergelyk ons onsself nie onnodig met ander nie? Soms kom jy beter daarvan af; ander kere kom jy sleg tweede.

Ek plaas die proffie denkbeeldig agter my lessenaar; het vir 'n oomblik 'n bietjie binnepret en voel sommer beter. Die gedagte aan alles wat agter daardie lessenaar danksy eie vaardigheid, talent en kundigheid vermag word, laat die krater tussen my oë terstond krimp. Daar is net een mens wat ek kan wees en dit is ekself.

God het aan elkeen van ons duidelik afgebakende rolle in die lewe gegee; nie een van ons is geroepe om alles te kan doen nie. In elke persoon teenoor wie jy minderwaardig voel se mondering is daar 'n swakker plek, iets waarin jy weer uitmunt. Fokus op die waarde wat jy tot die lewe van die mense om jou toevoeg. Die grootste beperking wat jy op jou bestaan voeg, is dít wat jy self daarop plaas. Pas elke dag een stukkie dissipline op 'n spesifieke gebied in jou lewe toe. Vier elke oorwinning en aanvaar verantwoordelikheid vir jou eie groei. Niks daarvan gebeur oornag nie. Sien elke uitdaging as 'n potensiële oorwinning en wees met vrymoedigheid die persoon wat jy geskape is om te wees. God het soveel moeite gedoen om seker te maak dat jy 'n oorspronklike bloudruk is. En onthou:

  • Jy is te mooi om lelik te wees.
  • Jy is te uniek om alledaags te wees.
  • Jy is te skeppend om verbeeldingloos te wees.
  • Jy is te divers om soortgelyk te wees.
  • Jy is te slim om stupid te wees.

If you are only what you are, you at least have a chance. Not to outsmart, but to be on a par with yourself and that is worth trying. – Dejan Stojanovic

  • 32
  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close