Algemeen -

Kan beurtkrag beëindig word?

Beurtkrag kan binne maande eindig. Dit kan selfs gouer gebeur met 'n paar klein veranderinge aan beleid, maar dan is die politieke wil ook nodig. Suid-Afrika kort op hierdie stadium sowat 4 000 mW om van bykans alle beurtkrag ontslae te raak. Dit kom daarop neer dat net 4 000 mense tot die mark hoef toe te tree, met verlede jaar se regulasie wat die opwekking van tot 100 kW sonder 'n permit toelaat.

Tóg gebeur dit nie.

Tans maak beleid dit baie moeilik vir mense om tot die mark toe te tree. Die permit-vrye opwekkingsmagtiging geld net regtig vir opwekkers wat nie aan die netwerk gekoppel sal word nie. Dit beteken basies dat dit net vir sommige myne die moeite werd sal wees. Ook nie eintlik nie, want daar word gepraat van regulasies wat die bietjie krag wat wel van Eskom gekoop kan word, dalk op 'n bewolkte dag of so, onbekostigbaar sal wees. Niemand wil met sulke onsekerheid opgeskeep sit nie.

Wat die opwekking vir lewering aan die mark betref is dit nog moeiliker. Hiervoor moet permitte verkry word, lisensies moet verwerk word en dan moet die stasie aan die netwerk gekoppel word. Net Eskom mag dit doen, so wie weet hoe lank dit sal neem? As dit alles, moontlik eers na 'n paar jaar, gedoen is, besluit die nasionale energiereguleerder (Nersa) wat jou tariewe moet wees. Dan kan dit gebeur dat Nersa dit te laag vasstel, wat beteken dat jy bankrot speel, of hulle kan dit te hoog vasstel, wat beteken dat jou kliënte netsowel by Eskom kan bly, wat dan weereens ly na jou wat bankrot speel. Dit is net nie die moeite werd om so 'n risiko te neem nie.

So wat is die oplossing? Dis eintlik heel maklik. Suid-Afrika moet dringend na die gebruik van meer kernkrag oorgaan. Hernubare energiebronne kan eenvoudig nie al die krag wat ons nodig het volhoubaar opwek nie. Dit kan wel 'n buffer skep wat die tekort tydelik dek en aanvullende krag lewer. En in tussentyd moet ons stokou steenkoolsentrales die land aan die gang hou. Daarvoor moet hulle herstel word. In daardie tyd sal die omstrede Karpowership tussentydse krag kan lewer. Terwyl die Turkse skepe die gaping vul, kan groot hernubare stasies met privaat kapitaal opgerig word. Terwyl dít alles aan die gang is kan die steenkoolsentrales een vir een van lyn afgehaal word, herstel word, en teruggesit word. Sodra die eerste paar weer betroubaar krag voorsien, en die hernubare energiebronne aanlyn is kan ons die vuil Turkse skip vaarwel roep. Kom ons sê hierdie het vier jaar geneem; vier jaar waarin daar bykans nooit beurtkrag was nie, want ons het die skip gehad, en nuwe kapasiteit in die vorm van wind- en sonkrag is die hele tyd bygevoeg. Die steenkoolkragsentrales se leeftyd is ook effens verleng deur die volledige onderhoud wat gedoen is.

Sodra dit afgehandel is, kan Eskom se fokus wees om 'n nuwe kernkragsentrale op te rig. Dit vat omtrent vyf jaar, en as ons die wêreld se beste mense aanstel om dit te doen, kan dit selfs vinniger gebeur. Wanneer die steenkoolkragsentrales dan die einde van hulle leeftyd bereik, word hulle vervang deur 'n paar nuwe kernkragsentrales. Al die probleme is dan opgelos en dit het nie eers te veel gekos nie. Van daar is alles maklik, want die eienaars van hernubare energiebronne maak hulle geld, terwyl Suid-Afrika se inwoners vir dekades lank goedkoop skoon kernkrag sal geniet. Dit binne slegs nege pynlose oorgangsjare.

So maklik soos dit.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close