Algemeen -

Kan sosialisme/kommunisme dalk in SA werk?

Miskien as dit nie vir sekere individue in die wêreld se geskiedenis was nie, dan sou ideologieë soos sosialisme en kommunisme dalk juis perfek gewerk en die utopie geskep het wat dit belowe. Haal net vir Joseph Stalin uit die Sowjetunie dan sou die staat al die mense se drome laat waar word. So ook dan met Mao Zedong in Sjina of selfs Hugo Chávez in Venezuela. Wie weet, dalk kon die beleid van die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty ook eintlik wonders verrig as dit net nie vir Adolf Hitler was nie.

 

Ons hoor die afgelope tyd gereeld dat die ANC se beleid eintlik baie sterk is en dat die enigste hindernis sekere individue is soos Jacob Zuma. Die implikasie is dus dat sodra Zuma uit is dan begin vreedsaamheid, ekonomiese groei, werkskepping en die vernietiging van armoede. Dit is beslis nie die geval nie. Net soos wat al die bogenoemde regimes hul mense se lewens sou verswak en dikwels hul lewens geneem het, ongeag watter individu in beheer is, so ook sal die ANC niks beter vaar met ʼn nuwe leier nie – selfs al is dit Cyril Ramaphosa soos wat baie hoop.

 

Die probleem met die ANC is nie dat daar sekere vrot appels in ʼn andersins goeie sisteem is nie. Die probleem is dat die sisteem onwerkbaar is en dat dit juis die sisteem is wat die appels vergiftig. Korrupsie vind plaas wanneer regeringsamptenare soveel mag het dat privaatindividue (lees Guptas) of maatskappye hul omkoop om daardie mag tot hul voordeel uit te oefen. Die staat is steeds die enigste instansie wat mense wettiglik kan forseer om geld te gee of dinge te doen teen hul wil. Die maklikste manier om korrupsie te veg is om die mag uit die staat se hande uit te neem. Wanneer die mag versprei is aan die burgers in plaas van in die hande van ʼn paar politieke leiers dan word maatskappye of privaatindividue gedwing hul produkte of dienste te verbeter as hul iets wil bereik.

 

Vir die land om enigsins vooruit te gaan, sal die regering se beleid moet verander. Die manier waarop die ANC regeer kweek korrupsie, dit is nie die simptoom van ʼn handjievol korrupte amptenare nie, dit is inherent gekoppel aan dié vorm van regering. Moet nie dink dat mens sekere prominente leiers kan vervang en dan sal alles beter word nie. Die ANC het ʼn ideologiese probleem wat altyd sal lei tot leierskapsprobleme.

  •  
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close