Algemeen -

Kan Suid-Afrika universele basiese inkomste bekostig?

Suid-Afrika kan nie bekostig om enige verdere toelae uit te betaal nie. Eintlik kan ons nie eers die bestaande toelaes bekostig nie. Ondanks dié feit het president Ramaphosa, tydens Mandeladag-vieringe, genoem dat die regering tans die moontlikheid van ’n basiese inkomstetoelaag bespreek.

Besprekings oor sulke toelaes, of maatskaplike veiligheidsnette is niks nuuts nie. Heelwat ontwikkelde lande het sulke stelsels in plek, waar die staat jou sal onderhou totdat jy weer op jou voete is. Suid-Afrika is egter nie ’n ontwikkelde land nie en moet daarom ophou om met idees wat slegs in ontwikkelde lande kan werk, te flankeer.

Baie gemeenskappe is direk afhanklik van mense wat maatskaplike toelaes ontvang. In party dorpies is “toelaagdag” die enigste dag van die maand waar ondernemings geld maak.  Die regering kan dus nie sommer oornag ophou om toelaes te betaal nie, maar daar moet nagedink word oor waarvoor toelaes uitbetaal word. Kan ons byvoorbeeld bekostig om mense te betaal om kinders te hê? Dit is eintlik presies wat die regering doen met die instel van die kindertoelaag. Dít terwyl die land se welvaart vir die afgelope dekade veel stadiger as die bevolking groei. Nie net verkwis ’n kindertoelaag belastinggeld nie, maar dit moedig verdere bevolkingsgroei aan.

’n Universele inkomstetoelaag, soos die tydelike R350-toelae wat die afgelope jaar uitbetaal is, is ’n vorm van so ’n toelaag wat mense betaal sonder om spesifieke gedrag aan te moedig. ’n Mens sou natuurlik kan argumenteer dat dit juis nie goeie gedrag, soos om te werk, aanmoedig nie. Alaska in die VSA het so ’n toelaag. Die kenners daar voel dat dit belangrik is om ’n balans met die bedrag van so ’n toelaag te handhaaf. Iemand moet ’n waardige bestaan kan voer, maar dit moenie so baie geld wees dat mense dit bo ’n salaris, of ’n loon sal verkies nie.

’n Veel beter opsie sal daarom wees om iets aan Suid-Afrika se werkloosheidsyfer te doen. Deur byvoorbeeld die minimumloon te skrap kan mense ’n waardige bestaan voer, met die wete dat hulle werklik hulle inkomste verdien. ’n Toelaag sal niks doen om ongelykheid op te los nie, omdat die verskil tussen niks en R410 nie veel is as ’n mens dit met die gemiddelde Suid-Afrikaanse salaris van ongeveer R22 000 vergelyk nie. Die oplossing vir ongelykheid lê daarom in die oplossing van werkloosheid en nêrens anders nie. Eers as hierdie probleem opgelos word kan daar hoegenaamd aan toelaes gedink word.

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close