Algemeen, Nuus, Politiek -

Kant kies is seker nie die regering se sterkpunt nie

Suid-Afrika vs. die Verenigde Nasies (VN); Suid-Afrika vs. Rusland; Suid-Afrika vs. Oekraïne – dié lys kan regtig nimmereindigend raak. 'n Mens kan seker ook wonder hoekom dit saak maak wat die Suid-Afrikaanse regering by die VN doen, of selfs hoekom ons 'n gesprek behoort te hê oor iets wat wêrelde van ons af gebeur. Hierdie denke van jou sou geregverdig wees behalwe natuurlik as jy kyk na die eenvoudige beginsel van die daad by die woord voeg.

As deel van wie ons is, hoe ons grootgemaak is en ons waarde-oriëntasies teenoor die beginsel van jou woord hou, is jou woord ongetwyfeld jou eer. Dis nie verbasend dat hierdie regering dit nie eers op die internasionale verhoog doen nie. Ons weet immers hulle kan dit ook nie op eie bodem doen nie. Vir hulle is woorde maar net woorde. In die witskrif aangaande Suid-Afrika se buitelandse beleid word herhaaldelik genoem dat ons beleide onderskryf word deur een sentrale ideologie, die diplomasie van ubuntu, en voorts dat nasionale sekuriteit ongetwyfeld berus op mense se sekuriteit wat weer gebaseer is op die ideologie van batho pele, oftewel om mense eerste te plaas. Is dit wat ons regering op die internasionale verhoog doen? Beslis nie.

Hierdie ANC-regering se stemgeskiedenis by die VN lees weliswaar soos 'n voorspelbare hygroman wat jou op die kort termyn gelukkig probeer hou, maar jou op die lang termyn slegs teleurstel. 'n Regering wat reken hy baseer besluite op die bevordering van menseregte en voorspoed van die mensdom stem gevolglik nee vir 'n VN-resolusie wat verkragting en seksuele misdrywe as oorlogstaktiek veroordeel. Die regering bly buite stemming oor VN-resolusies wat menseregtevergrype in onderskeidelik Noord-Korea, Belarus, Burundi, Sirië en Iran veroordeel. Meer onlangs natuurlik, bly Suid-Afrika buite stemming toe die VN besluit het om Rusland uit die Menseregteraad te skors.

Wie het ons geword? Hierdie optrede is nóg verteenwoordigend van Suid-Afrikaners se gevoelens, nóg van ons buitelandse beleid, maar is eerder die gevolg van 'n deurlopende witvoetjiesoekery by die Russiese Federasie onder die vaandel van neutraliteit.

Dit verbaas my nie dat 'n regering wat homself plunder en uit sy pad gaan om die strafregtelike proses te ontduik nie die daad by woord sal voeg nie, maar selfs wanneer dit by iets so eenvoudig soos menseregte kom? Regtig? Is dit waar ons gaan eindig, met 'n spul ruggraatlose regeerders in beheer wat nie eers met oortuiging kan sê dat iets wat objektief sleg is, wel slég is nie?

In die witskrif kom 'n mens deurlopend af op stellings soos: “Die mees progressiewe Grondwet ter wêreld behoort beskerm te word” of “Ons tree ooreenkomstig een van die mees progressiewe grondwette ter wêreld op” en ander stellings in die trant. Die werklikheid is weereens egter vêr verwyder van wat hulle sou wou voorgee. As Suid-Afrika ooreenkomstig sy Grondwet by die VN gestem het, sou ons ten minste menseregtevergrype kon veroordeel. Daar is net iets aan die verminking van menseregte wat nie vir my baie ubuntu klink nie, maar dis seker net ek. Vêrder kan 'n mens net wonder, en dit kom uit die mees opregte plek wanneer 'n mens dit doen, hoe lank hierdie regering van ons sy skadelike misdrywe met die “mees progressiewe Grondwet ter wêreld” gaan toesmeer en dít terwyl hulle daardie Grondwet minag?

In ieder geval, ten spyte van die stemgeskiedenis van 'n regering wat ongetwyfeld saam met die Russe wil speel terwyl die res toekyk, kyk ons as Suid-Afrikaners vorentoe en verby die kranksinnigheid. Ons kyk deur die regering se planne, en ons kyk na die toekoms – een waarin ons as Suid-Afrikaners die daad by die woord gaan voeg ten spyte van 'n magsowerheid wat keer op keer bewys dat sy eie lamlendigheid in die pad staan van sy basiese mandaat – om op te tree soos jy gesê het jy sou.

  •  
  •  
  •  
Deur Franco van der Berg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close