Algemeen -

Kerk, Marietjie en 'n “Ja” vir Hom

Marietjie is mal oor kerk. Sondag is haar gunsteling-dag. Die Bybelsakkie bult eintlik van alles wat vir kerk gepak word. 'n Hele pennesakie met 'n verskeidenheid penne, potlode en highlighters, effe oordadig vir iemand wat nie kan skryf nie. Natuurlik Bybel en Psalmboek. Tiesjoes. In die handsak kom haar ekstra lappie, 'n noodsaaklikheid vir die lastige nattigheid op haar ken wat maar altyd deel van haar sal wees. Natuurlik ook die beursie met die kerkgeld in.

 

Getof, gekous, geskoen en geserp kom sy aan my arm die kerk binne. Ons soek 'n plekkie agterlangs, want die kerk-opwinding sit gou om in 'n gevroetel, wat maklik vir mense lastig kan wees. Die pennesakkie word uitgehaal. In die stil kerk klink die rinkelende skryfgoed soos 'n rotsstorting teen 'n berghang. Ek probeer dit vir haar ooprits sodat sy met die minimum geraas kan uithaal wat sy wil hê, maar sy ruk dit verontwaardig uit my hand, sodat nog 'n rotsstorting volg. Dan begin blaai sy deur haar Bybel. SJOEP, SJOEP maak die blaadjies, byna soos windvlae op 'n Augustus-dag. Dan besluit sy om haar geldjie solank uit te haal en langs haar neer te sit. Natuurlik val dit met 'n slag wat koppe rondom ons laat omruk. Terstond sak die getofde twee-en-twintigjarige dametjie sonder skroom op die vloer neer en begin onder die bank voor ons inkruip om dit te soek. “Marietjie!” sis ek dringend. “Hier is 'n ander geldjie! Los daardie een uit.” Ek probeer reguit vorentoe kyk en die dogtertjie langs ons wat oopmond en grootoog staar, ignoreer. My gesig skyn soos Moses van ouds s'n en dis nie van heiligheid nie.

 

Ja-nee, kerk met Marietjie kan 'n uitdaging wees. Maar ten spyte daarvan, weet ek op een besonderse Sondag dat 'n groot en heilige gebeurtenis rondom my kind gaan afspeel. Hierdie kind wat ek jare gelede uit die dood terug ontvang het, lê belydenis van geloof af.

 

Sy staan voor die preekstoel. Weerskante van haar, by haar ingehaak, staan Magdi en Boetie. Sy het gekies dat hulle twee haar ondersteun. Op hierdie dag lyk sy regtig pragtig. Haar rokkie pas soos 'n handskoen, en sy dra 'n perskekleur serpie. Haar blonde hare is in 'n knip vasgevat agter haar kop. Daar is 'n gewydheid aan die oomblik, soveel so dat ek my maklik kan indink dat die engele bokant die kerkdak die blou van die uitspansel soos 'n gordyn wegtrek om te kan sien. Die dominee klim van die preekstoel af. Hy kom staan voor haar met 'n mikrofoon. Pragtig vereenvoudig hy die vrae vir haar. “Ken jy die Here en het jy hom lief?” “Jaa” kom dit duidelik oor die klankstelsel. Dit klink amper meer soos “Haa”, maar wat maak dit saak? Niemand kan twyfel oor haar opregtheid nie. “Wil jy hom dien?” Weer die “haa”. Die gemeente, dit wil sê die wat nie met hulle sakdoeke doenig is nie, sing haar toe “Laat Heer U seën op haar daal”. Sy sing saam, hard en vals soos altyd, maar weer eens, wat maak dit saak?

 

Soos soveel keer in Marietjie se lewe tot dusver voel ek hoe die woorde van Jesaja rondom haar eggo “…omdat jy kosbaar is in my oë, hooggeag, en ek jou liefhet.”. Die Here koester Sy anderster kinders met teerheid en begrip. Vir Hom is sy pragtig en uniek. Sy is presies soos Hy haar wou gehad het. Mense staar miskien, of fluister, kyk na haar met 'n mengsel van simpatie en afkeer. Maar haar Vader verstaan haar. Vir Hom is die gekletter van haar skryfgoedjies en die gesjoep van haar Bybelblaadjies totaal en al onbelangrik. Die oorgawe waarmee sy sing en die eenvoud van haar geloof is vir Hom genoeg.

 

Hoe eenvoudig glo ons? Te dikwels ontaard godsdiens net in 'n gekibbel oor wie wat reg verstaan en hoe watter woord vertaal is. Of in 'n geskarrel rondom kermisse, pannekoeke en allerhande Martha-bedrywe. Maar het jy die Here lief? Wil jy Hom dien? Is Hy vir jou 'n Vader wat jy onvoorwaardelik vertrou en volg? Sit jy soos Maria (of Marietjie?) aan Sy voete?

 

Eendag sal Marietjie in spierwit klere geklee wees. Sy sal haar Here van aangesig tot aangesig ontmoet. Ek kan my byna indink dat Hy haar sal toelaat om haar Bybelsakkie en pennesakkie saam te neem. En dat die engele rondom haar en saam met haar sal sing.

 

Want sy is mal oor kerk.

  •  
  •  
  •  
  •  
Marietha Malan Deur Marietha Malan


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close