Algemeen -

Kernkrag of kermkrag?

As dit by die wêreld se energiebehoeftes kom, is dit onmoontlik om almal tevrede te stel. Die twee grootste besprekingspunte is koste en omgewingsoorwegings. Dit help natuurlik niks as daar net op die een gefokus word nie. Iewers moet ’n kompromie gevind word. Ongelukkig is die kompromie selde genoeg om enige van die twee oorwegings goed genoeg te bevredig.

Vanuit beide perspektiewe is kernkrag die goue middeweg. Wat koste betref, werk dit ’n kwart uit van dit wat steenkoolkrag sou kos. Wat omgewingsbesware betref, pak ons die afval in boksies en bêre dit; niks beland in iemand se longe nie.

Eskom het November verlede jaar hulle interim-resultate, met ’n duidelike uiteensetting van opwekkingskoste, gepubliseer. In die voorafgaande jaar het kernkrag omtrent soveel tot die netwerk bygedra as hernubare krag. Die prysverskil is egter beduidend. ’n Jaar se kernkrag het ons ’n skamele R616 miljoen gekos, maar hernubare krag het meer as R14 miljard gekos. Dit is meer as 20 keer die prys per eenheid.

Nie eers steenkool hou by kernkrag kers vas nie, met ’n prys van R401 per MWh teenoor kernkrag se R99 per MWh. Daarbenewens maak dit ook nie sin om steenkool teen tonne per minuut te verbrand terwyl dit eintlik ’n veel meer waardevolle bron in die hande van Sasol, of ander industrieë is nie. Suid-Afrika sit eintlik op ’n industriële goudmyn in terme van steenkool wat beter vir ander goed as kragopwekking gebruik kan word.

Die oplossing lê ook nie in die son en die wind nie. Dit neem doodeenvoudig te veel plek op, is te onvoorspelbaar én dit is te duur om krag te stoor vir latere gebruik. Behalwe vir die ruimte wat son- en windkragstasies opneem, slaan windlaaiers boonop groot voëls dood teen ’n koers wat niks anders kan klop nie. Sonkrag neem weer soveel ruimte op dat ’n mens nie eintlik meer van die omgewing kan praat nie, want die omgewing is nie meer sigbaar agter al die panele nie.

Kernkrag is ook nie meer so gevaarlik soos in die dae van Chernobyl nie. Deesdae se kernkragsentrales is veiliger as enige ander bron, dit laat nie die lug op my drafroete soos swael ruik nie, slaan geen voëls dood nie en die reserwespasie rondom kernkragsentrales word dikwels as natuurreservate aangewend. Daar is letterlik geen meer rede om krag op enige ander manier op te wek nie.

Foto bron: Pixabay

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close