Algemeen, Politiek -

My kind van eendag, ons beveg kwotas vir jou ook

My kind, jy is nog nie hier nie, maar wanneer jy eendag jou verskyning maak, weet ek dat ek met alle eerlikheid vir jou sal kan sê dat ek alles in my vermoë gedoen het om elke moontlike kans vir jou te gee sodat jy ʼn sukses van jou lewe kan maak.

Is dit nie maar die wens van elke ouer nie – om sy of haar kind elke moontlike geleentheid te bied sodat hul talente ten volle ontgin kan word?

Hoekom sal ek dan nie daarvoor veg om seker te maak dat daar nie teen my kind gediskrimineer word op grond van hoe hy of sy lyk en wat hy of sy is nie?

My kind, in jou onskuldige denke sal jy my nou vra hoe so iets dan ooit geregverdig kon wees. Ek sal vir jou kan sê dat mense se onmiddellike reaksie op so ʼn stelling, wêreldwyd, een van groot verbasing behoort te wees. Maar in die Suid-Afrika van 2017 is die gebruik van kwotas, ʼn stelsel wat voorkeur gee aan jou voorkoms, egter niks nuut nie.

Boonop wil dit lyk of die internasionale wêreld van vandag hulle nie werklik steur aan Suid-Afrika se toepassing van die gewraakte stelsel nie. Aan die ander kant is ons in Suid-Afrika egter al so geïndoktrineer deur die realiteit van kwotas dat ons nie eers meer wanneer ons na ʼn spanfoto van ʼn sportspan kyk sonder enige twyfel vas glo dat dit die beste span is. Dit kan mos nie?

Ek wil graag vir jou, my kind, leer dat as jy goed genoeg is en hard werk om die beste te wees jy gekies behoort te word, maar dit breek my hart dat ek dit nie aan jou kan belowe nie.

Solidariteit en AfriForum is tans in ʼn stryd gewikkel teen die afdwinging van rassekwotas by die kies van sportspanne. My kind, ek is trots om te kan sê dat ek deel is van hierdie stryd. Ek kan doodeenvoudig net nie toelaat dat jou toekoms deur politiek bepaal word nie.

Maar Pa, dit is net sport en ek is nie eers besonder goed nie. My kind, dit gaan oor meer as sport. Dit gaan oor ʼn denkwyse. Dit gaan oor ʼn stelsel waarvolgens dit aanvaarbaar geword het dat jy, al is jy die beste, beoordeel sal word op grond van iets anders. Dit gaan oor ʼn stelsel waar selfs die speler wat deur die stelsel bevoordeel behoort te word, as ʼn kwota beskou word, al is hy of sy andersins suiwer op meriete geneem goed genoeg. Dit gaan daaroor dat as jy hard genoeg werk en goed genoeg is, ongeag of dit in sport of enige iets anders is, jy sukses behoort te behaal. Bloot daarom en daarvoor sal ek aanhou veg.

  •  
  •  
  •  
  •  
Francois Redelinghuys Deur Francois Redelinghuys


Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close